
Van links is die boksers Vikapita “Beastmaster” Meroro en Jason “Taks” Naule, bokspromoter Nestor Tobias, mnr. Oiva Angula van Telecom Namibië en Sacky “Izii-Nyooka” Shikukutu.
DIE Namibiese bokser Jason “Taks” Naule kry binnekort kans om sy verlore WBA Pan Afrika junior weltergewigtitel terug te wen. Sy titelgeveg teen die Suid-Afrikaner Kaizer Mabuza sal op 16 Augustus by die jaarlikse Telecom Wine & Dine internasionale bokstoernooi by die Windhoek Buitekluboord plaasvind.
Nestor Tobias, bekende afrigter en bokspromoter, het gesê hy het die 27-jarige Naule ’n maand rustyd gegee ná sy neerlaag op 20 Maart by die Windhoek Buitekluboord. “Ek het vir Taks tyd gegee om die verloor te hanteer en sy kop reg te kry. Van daar het ons terug gekyk op die foute wat gemaak is en dit reggestel,” het Tonias gesê.
Tobias sê Naule oefen twee keer ’n dag en die twee werk hard saam om hom selfs ‘n beter bokser te maak. “Partykeer wen jy en partykeer verloor jy. Taks het voor die geveg persoonlike probleme gehad wat ’n rol gespeel het dat hy sy titel verloor het, maar hy is nou gereed. Die publiek kan weer die regte ‘Taks’ Naule by Telecom se Wine & Dine bokstoernooi verwag en dat hy weer sy titel sal terugvat,” het Tobias gesê.
Tobias sê hy leer sy boksers dissipline en druk hulle hard om daardie bietjie ekstra te gee om ’n boksgeveg te kan wen. Naule het sy afrigter se woorde beaam dat hy verseker sy titel sal terugwen. “Ek oefen nog die hele tyd hard vir die geveg en het baie hulp gekry om myself reg te kry om teen Mabuza hou vir hou te staan. Ek sal die geveg wen,” het Naule verseker.
Nege Namibiese beroepsboksers sal in voorgevegte teen opponente van Zimbabwe, Botswana en Suid- Afrika te staan kom. Die Namibiese boksers gaan Vikapita “Beastmaster” Meroro, Paulus “The Rock” Ambunda, Jaatorora “The Sting” Tjingaveta, Daniel “Open Fire” Kashela, Tommy “The Lion” Hango, Simon Negodhi, Abraham “Energy” Ndaendapo, Martin Haikali en Gottlieb “The Bite” Ndokosho wees.
Ellison Hijarunguru, uitvoerende lid van die Namibiese Boksbeheerraad, het oor die kwessie van bokspromoters gesê meer promoters moet betrokke raak. “’n Persepsie bestaan dat boks deur ’n monopolie beheer word, wat nie waar is nie. Maar hoe meer promoters by boks betrokke is, hoe meer sal boks mededingend word en vorder,” het Hijarunguru gesê.
Tobias het Hijarunguru gesekondeer deur te sê dat hy wil graag hê dat ander promoters betrokke raak by die ontwikkeling van boks. “Daar is baie talent in die hele land wat net raakgesien moet word. Dit is nie maklik om gevegte bymekaar te sit nie. Met meer promotors sal dit baie makliker word om boksgevegte meer gereeld vir die publiek aan te bied om die sport te kan geniet,” het Tobias gesê.