
Aksie tydens verlede jaar se nasionale swemkampioenskap by die munisipale swembad in Olympia.
’n SPAN van 15 swemmers van die Mpumalanga provinsie van Suid-Afrika gaan vanaf Donderdag tot Sondag aan die nasionale swemkampioenskap deelneem wat by die munisipale swembad in Olympia gehou word.
Die president van die Namibiese Swemunie (NSU), mnr. Klaus Laborn, het aan Republikein gesê plaaslike swemmers is te gerus wanneer hulle aan die nasionale kampioenskap deelneem. “Daar is swemmers wat klaar weet in watter kategorie hulle gaan wen en dan doen hulle bloot genoeg om te wen, want daar is nie genoeg druk op hulle om hul beste te swem en meer nasionale rekords te verbeter nie,” het Laborn gesê.
Laborn glo die Suid-Afrikaanse besoekers sal ’n hoër dimensie aan die swemgala verleen deur die vlak van kompetisie en sodoende die plaaslike swemmers se standaard te verhoog. “Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat ’n buitelandse swemspan aan die gala deelneem en ons hoop dat die standaard sodanig is dat die Mpumalangaswemmers die boodskap sal versprei en dat meer Suid-Afrikaanse provinsiale swemmers aan toekomstige swemgeleenthede in Namibië sal deelneem. As dit gebeur, sal daar baie meer druk op plaaslike swemmers wees om te presteer en hulself tot die uiterste te druk,” het Laborn gesê.

Die Suid-Afrikaner Ryk Neethling (links) en Aaron Peirsol, voormalige Amerikaanse Olimpiese swemmer, het Vrydagaand op uitnodiging van die Namibiese Swemunie by Arebbusch Lodge ’n motiveringstoespraak gelewer oor hoe om jou droom in swem te bereik. Peirsol het in sy Olimpiese loopbaan vyf goue en twee silwermedaljes gewen.
Die swempresident het die afgelope week erken dat realisties gesproke geen plaaslike swemmers tans in die wedloop is om vir die Olimpiese Spele later vanjaar te kwalifiseer nie.
Twee goue, vyf silwer- en sewe bronsmedaljes by die negende Afrika Junior swemkampioenskap in Port Harcourt, Nigerië, is in Desember deur agt Namibiese meisies en een seun ingepalm. Die Namibiese span van nege het altesame 14 medaljes verower en die span het derde algeheel ná Suid-Afrika en Zimbabwe geëindig. Laborn hoop dat Christine Briedenhann, Zanré Oberholzer, Kiah Borg, Michaela Cloete en Godiva Beukes wat by die Afrika Junior kampioenskap presteer het, ’n hoë standaard teen die Suid-Afrikaners sal handhaaf.
Swemmers van ses Namibiese klubs, naamlik Dolphins, Namib Swimming Academy, Marlins en Spartans (almal van Windhoek) asook die klubs van Oranjemund, Swakopmund en Tsumeb sal meeding. Tsumeb neem vir die eerste keer aan die gala deel nadat die klub in Junie verlede jaar by die NSU geaffilieer het.
Die program vir die eerste twee dae is as volg:
Sessie 1 Donderdag, 26 Januarie
Die kompetisie begin om 17:30
Finaal 1: Mans ope 50 vlinderslag
Finaal 2: Vroue ope 50 vlinderslag
Finaal 3: Mans ope 400 wisselslag
Finaal 4: Vroue ope 400 wisselslag
Finaal 5: Gemeng ope 200 vlinderslag
Finaal 6: Mans ope 1500 vryslag
Finaal 7: Vroue ope 800 vryslag
Sessie 2: Vrydag, 27 Januarie
Kompetisie begin om 15:00
Finaal 8: Mans ope 400 vryslag
Finaal 9: Vroue ope 400 vryslag
Finaal 10: Seuns 9-10 100 borsslag; Mans ope 400 vryslag
Finaal 11: Meisies 9-10 100 borsslag; Vroue ope 400 vryslag
Finaal 12: Mans ope 200 borsslag;
Seuns 8 & jonger 50 borsslag
Finaal 13: Vroue ope 200 borsslag;
Meisies 8 & jonger 50 borsslag
Finaal 14: Seuns 9-10 100 rugslag
Finaal 15: Meisies 9-10 100 rugslag
Finaal 16: Seuns 11-12 100 rugslag
Finaal 17: Meisies 11-12 100 rugslag
Finaal 18: Seuns 13 & jonger 100 rugslag
Finaal 19 Meisies 13 & jonger 100 rugslag
Finaal 20: Mans ope 200 vryslag aflos
Finaal 21: Vroue ope 200 vryslag aflos