
Riaan Jantjies het as agterlynafrigter van die 2011 Wêreldbekerspan reeds ’n pad met die huidige spelersgroep gestap. Hy was self skrumskakel in die 1999 WB-toernooi.
DIE wedstrydprogram vir die Suid-Afrikaanse Vodacombekerreeks is reeds bekend met die Welwitschias se eerste wedstryd geskeduleer vir 10 Maart teen die Griffons in die Noordwes-stadion op Welkom.
Of die kragmeting gaan plaasvind en of die Welwitschias wel in die reeks sal meeding, bly egter nog ’n ope vraag. Die beursie van die Namibië Rugbyunie (NRU) is leeg en sy hoofborg MTC het sy geldkraantjie einde verlede jaar voorlopig toegedraai ná die skielike bedanking van die vorige NRU uitvoerende komitee wat die beheerliggaam onder leiding van ’n tussentydse bestuur gelaat het.

Jakkals Pretorius het ietwat uit die oog verdwyn sedert hy sowat vyf seisoene gelede afrigter van die nasionale A-span asook die hulpafrigter onder Johan Venter was.
Namibië se deelname aan die Vodacombekerreeks is in die weegskaal en harde werk wag op die “gelukkige” kêrel wat as afrigter die leisels oorneem.
Volgens die voorsitter van die tussentydse komitee, mnr. Danie Strauss, het die gewese hoofafrigter Johan Diergaardt nie aansoek gedoen vir nog ’n termyn nie en word hy dus nie as kandidaat oorweeg nie. Diergaardt se termyn het in Desember verval en hy is meer as een maal in die media aangehaal dat hy nie meer voltyds die taak wil hanteer nie.
Die vyf manne wat aansoek gedoen het om Diergaardt se plek in te neem, is Jood Opperman, Danie Vermeulen, Riaan Jantjies, Jané du Toit en Jakkals Pretorius.

Danie Vermeulen was in 2004 afrigter toe Namibië die Afrikabeker gewen het. Die gewese stut het oor jare ’n bewese rekord met United opgebou, veral saam met ouboet Gielie as agterlynbreier.
Die finale vyf word deur die paneel van Paul van Dyk, Jacky Husselman en Werner Jeffery geëvalueer waarna ’n aanbeveling aan die NRU tussentydse komitee voorgelê sal word, wat dan die keuse sal bekragtig.
Met die haastige bedanking van die vorige bestuurslede verlede jaar is die huidige tussentydse komitee se prioriteit om die weg te baan vir ’n algemene jaarvergadering met alle betrokkenes in Namibiese rugby. Voordat dit kan geskied, moet die geouditeerde finansiële state eers beskikbaar gestel word.

Jood Opperman. Sedert sy speeldae (stut in die 1999 WB) het hy uitgeblink deur Rehoboth Rugbyklub na sy eerste Premierliga-titel af te rig en in 2011 vir Dolphin na sy eerste triomf in die Eerste Liga te lei.
Strauss het by navraag aan Republikein gesê: “Ek kan bevestig dat die finansiële state in die finale fase van afhandeling is en dat klubs binnekort in kennis gestel sal word van die datum van die jaarvergadering. Die finansiële state sal daar voorgelê word, asook ’n volledige verslag van die tussentydse uitvoerende komitee waarin ons die posisie van die NRU volledig sal uitspel.”
Strauss het ook benadruk: “Met die daarstel van ons nuwe beleidshandleiding, gebaseer op die Kanadese en Australiese modelle wat deur die Internasionale Rugbyraad (IRR) aan ons beskikbaar gestel is, sal strukture gestel word om ’n herhaling van die verlede te verhinder.
“Op gereelde grondslag sal verslag gedoen word sodat almal betrokke by plaaslike rugby op die hoogte is. Spesifieke kriteria word gestel sodat die personeel in die NRUkantoor op ’n doeltreffende manier sake hanteer. Ons wil in oorleg met die IRR dinge doen en aanpak en ons borge oortuig dat die herstel van ons rugbytrots prioriteit nommer een is.”

Jané du Toit. Die voorryman se aanstelling sal ’n verrassing wees, omdat hy maar eers ná die 2011 Wêreldbeker uitgetree het. Hy is egter ’n bewese leier as kaptein van verskeie provinsiale spanne.
Strauss was reeds verskeie kere in gesprek met die IRR wat die werking van die tussentydse komitee ten volle ondersteun. Hy het aan Republikein bevestig dat die komitee en ’n konsulterende groep van die IRR vanaf 26 tot 29 Januarie in Windhoek vergader om die beleidshandleiding af te rond tot ’n werkbare dokument wat deur die nuut gekose NRU uitvoerende komitee uitgevoer sal word.
“Die taak wat op die nuwe rugbyleiers wag, is enorm. Die mandaat van die tussentydse komitee is byna voltooi en daar kan binnekort jaarvergadering gehou word sodat die sport weer rigting kry en sodat die NRU noukeurig met klubs en die IRR saamwerk.”

Die voorsitter van die NRU se tussentydse bestuurskomitee, mnr. Danie Strauss.
Die tussentydse komitee word met arendsoë dopgehou om so spoedig moontlik die jaarvergadering te laat geskied. Reëls en regulasies moet egter gevolg word wat baie van die betrokke manne se tyd neem, al het hulle min daarvan.
Hierdie jaarvergadering moes deur die vorige leiers in beheer gehou gewees het, wat dit ongelukkig nie gedoen het nie. Nou is egter nie die tyd om vingers te wys nie, maar eerder te fokus op die toekoms van plaaslike rugby en die pad vorentoe.
“Kom ons hou gister by gister en vandag by vandag,” is Strauss se sienswyse.