VRYPOSTIG gaan haal hom vandag ver, sommer doer in die yskoue Moskou! Vroeër vandeesweek het Rusland se president met die snoeiskêr ordentlik ingeklim onder atlete en beamptes by die Olimpiese Winterspele.
President Dimitri Medwedef het behoorlik gal gebraak ná Rusland se swakste vertoning in die geskiedenis van die Winterspele.
Om met net drie goue medaljes en in die elfde plek op die medal jelys in die skaduwee van lande soos Kanada, Duitsland en Amerika te staan, het die Russiese leier laat vastrap met die ultimatum aan die betrokke sportbeamptes: bedank of word afgedank.
Sportleiers van verskeie federasies het die trekpas gekry. Nou wonder Vrypostig wanneer ander staatshoofde die voorbeeld van die Groot Rus gaan volg.
Hier by ons “werk” die stelsel al vir jare andersom: sportbeamptes sit lekker beentjies oorkruis, heilig en veilig en doen absoluut niks om sport te verbeter nie. Sommige sit al vir meer as tien jaar op die troontjie, vlieg die wêreld vol en het so tekere gegaan het dat daar geen sente meer oor is nie. Praat liewer nie eens van dollars nie, want dan raak die rekening oortrokke. Dikwels met voortgesette regeringsteun aan die ploeterende sportkode.
So van vlieg gepraat: kom ons praat oor wit olifante. Die seevoëls het die afgelope vyf jaar genoeg tyd gehad om hul besigheid op daai pragtige, maar onbenutte sportkompleks en tartanbaan op Swakopmund te doen. Vyf jaar later wil nie eens die seevoëls meer daar gaan sit om te mis nie.
’n Mens wonder wat is die idee van hierdie stilstaande monument op Swakopmund? Neem ten minste die voorbeeld van die geskiedkundige Ruiterstandbeeld in Windhoek, wat elke honderd jaar of wat van staanplek wissel. Sportkomplekse word gebou om gebruik te word deur die mense van die land. Is die kompleks nou eintlik op Swakopmund gebouom maar net te vergaan? Daar sou eintlik ’n atletiekbyeenkosm vir skole plaasvind, maar toe is daar weer nie genoeg verblyf om die duisende atlete te huisves nie.
Watwou!
Vrypostig raak bekommerd oor die sport in Namibië. Die een sportkode kla hulle het nie geld nie, die ander sê hulle voel afgeskeep, sommige eis ’n klomp geld nog voordat hulle hulself bewys het, en diesogenaamde sportadministrateurs maak sommetjies oor hul bankrekening en hoeveel keer hulle vanjaar op die soustrein kan klim.
In ’n neutedop; ons sport boer agteruit weens die onbevoegdheid van mense in leiersposisies. Vrypostig glo darem dat die Onafhanklikheidstadion betyds klaar sal wees vir die inhuldiging van die land se President en sy kabinetslede. Daar is tans nog nie gras nie, maar volgens woordvoerders is die saadjies geplant en die Chinese werk deurnag om die stadion voor 21 Maart gereed te hê. Dalk word ’n paar kleurvolle strepe nog op die nipper voor die inhuldiging getrek!
Nog ’n teer puntjie wat Vrypostig wil aanraak, is borgskap. Sport in die land kan nie bestaan sonder die bydrae van die Regering asook borge uit die private sektor nie. Maar borge moenie die media misbruik om net reklame te kry en daarna laat hulle die sportkode in die steek nie. Dis onaanvaarbaar, om die minste te sê. Of dit wys eintlik die ware karakter van sulke maatskappye. Sommige sportkodes het verbasend ver gekom sonder enige fi nansiële hulp, veral die kleiner sportkode waar beamptes soms die hande diep in hul eie sak moet steek.
Maar so weet Vrypostig ook dat groot maatskappye groot geld belowe en haal die voorblaaie van koerante en is hoofnuus op televisie en radio, maar dis waar dit stop en hul beloftes is leër as die gemiddelde politikus s’n. Dit maak baie seer as sportmense hul hart op ’n ding sit en die dag as die geld moet kom, moet verskonings aangehoor word. Die nuutste voorbeeld is die beplande liga vir sewesrugby wat nou maar sonder die “Trust” van ’n borg moet voortgaan.