3.02.2010 Sportkommissie pluk nuwe besems uit
NUWE besems met sterk hare het gisteroggend deur die huis van die Namibiese Sportkommissie gevee met die aanwysing van ’n nuwe uitvoerende komitee vir die volgende drie jaar. Van die ouer garde het hul plekke behou, maar in strategiese poste het vars hande die leisels gevat met die gesamentlike doelwit dat die Sportkommissie in die komende drie jaar vir ’n omwenteling sorg tot voordeel van elke sportkode in die land.
In die voorsitterstoel sal me. Ulitala Hiveluah die leiding moet neem. Haar taakspan bestaan uit: Agnes Tjongarero (NNOK), Vivian Katjiuongua (verantwoordelik vir wetsaspekte binne die raamwerk van die bedrywighede van die Kommissie), Ben Naobeb (Tisan-verteenwoordiger), Drusilla Kandjii (verteenwoordig gestremde sport), Amos Shiyuka (bemarking), Monica Bohitile (verteenwoordig NSSU), Piet du Plooy (private sektor) en Michael Angula (verteenwoordig die vrouesportliggaam Nawisa).
Die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, eerw. Willem Konjore, het geen doekies omgedraai in sy toespraak by die inhuldigingseremonie nie.
“Wanneer ek opdragte aan die Sportkommissie gee, verwag ek dat dit met noukeurigheid en sonder afwykings uitgevoer sal word. Dit mag ook nie in konflik wees met die Sportwet of enige reëls en regulasies nie. Ek verwag dat ons as ’n span moet saamwerk. Van die beamptes is behou in belang van kontinuïteit en die harmonisering van verhoudinge tussen die verskillende sportkodes.” Die Minister het ook na die vele kritiek teen die Sportkommissie die afgelope drie jaar verwys.
Die beheerliggaam, die land se hoogste sportgesag, het in die tydperk taai klappe uit verskeie oorde gekry oor ondeurdagte besluitneming en wanadministrasie. Eerw. Konjore het benadruk dat elke taak deeglik uitgevoer moet word, omdat hy as Minister verantwoordelik is om aan die Kabinet, die Parlement, die Sone 6 Sportraad vir Afrika (SCSA) en die Afrika-unie vir Sport te rapporteer.
Een van die nuwe beamptes, die bekende reklameman Amos Shiyuka, is verheug oor sy aanstelling en het aan Republikein gesê hy sien geweldig uit na die uitdaging. “Almal is bewus van blapse van die verlede en dit moet nou reggestel word. Ek wil graag deel wees van so ’n gemotiveerde span en glo ons sal saam die wa deur die drif sleep.”
Shiyuka voorspel ’n nuwe era waar die Sportkommissie deeglike aandag aan elke sportsoort, van die kleinste tot die grootste, sal gee. “Die tyd is lankal ryp dat ons bemarking só gedoen word dat elke sportkode verseker is van ’n eie, gevestigde borgskap. Dit is een aspek waar ek my volle gewig sal ingooi om ’n droom te bewaarheid. Met sulke waarborge kan enige sportkode tot sy volle reg kom, en dit is die doelwit.”
Een van die noukeurigste ontleders van die Namibiese Sportwet en president van die Namibiese Hokkievereniging, mnr. Jesse Schickerling, het by navraag gesê die Sportwet is nog nooit korrek toegepas nie. “Die Sportkommissie is ’n skepping deur strukture en dit moet gehandhaaf word. Sedert die Sportwet in 2003 in werking gestel is, is die bepalings nie reg geïmplementeer nie. Die begrotingsprosedure word uitgestippel in die wet, maar is nog nooit nagekom nie. Dit moet vlot, anders kan die Sportkommissie nie vir Minister Konjore reg adviseer nie.
|