SOKKERBOEWE of boewesokker. Seker die twee lelikste woorde in Namibiese sokker. En ja, die waarheid is dat die tweelingmonster besig is om ewe bedrewe nes te skop in die land se grootste en gewildste sportsoort.
Dit is uiteraard nie met ’n lied in die hart dat Vrypostig kennis geneem het van die vieslike voorval afgelope Saterdag op die SKWsokkerveld nie. Tensy dalk met ’n lied soos “Trane die rol oor jou sokkiebokkie?”
In ’n vertoning van skreiende onbevoegdheid was omtrent almal skuldig aan die een of ander vorm van onkunde of wangedrag. ’n Bekende sokkerboef wat met vulgêre taal sy stem uit die pawiljoen laat hoor het, was die aansteker van die lont wat toe reeds kort was ná ’n gespartel vir sowat 6 000 toeskouers om in die stadion te kom.
Toe het die skeidsregter se ongewilde beslissing gekom om ’n speler van African Stars die trekpas te gee.
Die vlammetjie was naby aan die dinamietkers, en toe die boef met ’n bierblik lostrek, het die ou spulletjie ontplof met ’n pistoolskoot wat bo die geraas van die skreeuende massas gehoor kon word. Het Vrypostig reg gehoor? ’n Toeskouer met ’n vuurwapen?
In die daaropvolgende nou-al-so-voorspelbare verskoning van die Namibiese Sokkervereniging (NSV) is belowe dat die “regte kanale” gevolg sal word en dat “alles moontlik” gedoen sal word om te verseker dat sokker “altyd die wenner” is en dat wedstryde in “veilige stadions” aangebied sal word.
Sjoe, Vrypostig vrek van nuuskierigheid om die uitslag van hierdie beloftes te sien!
Vrinne en vrindinne, boewesokker en sokkerboewe is nie ’n eenvoudige kwessie nie. Feit van die saak is as die NSV sy beloftes wil gestand doen, sal dit beteken hy moet die ondersteuners van sekere spanne by Unam inskryf vir minstens ’n maandlange kursus in daai uiters moeilke vak: Basiese opvoeding in sokker!
Vrypostig wil nou nie die personeel van die NSV-kantoor aan hul borrelgom laat stik nie, maar daar bestaan nie ’n kitsoplossing vir hierdie onding nie. En van kanale gepraat, die NSV en die Goewerment sal nou ook die “regte kanale” by die Sam Nujomastadion moet volg en daai flopperige dreineringstelsel se pype oopskiet.
Terwyl die een span deskundiges daarmee besig is, kan ’n tweede span solank gras by die Onafhanklikheidstadion gaan plant. Hulle kan sommer die oorskietwater uit die verstopte kanale van die Sam Nujoma-stadion gaan haal. Anders gaan ons in die rioolannale beland!