|
Republikein
|
|
|
23.08.2010 Skolerugby sorg vir dis soos min!WHS behou Metropolitan Raadsbeker![]()
’n KLEMVERSKUIWING van rugbykrag, ’n besondere gees en boodskap van bemoediging het die naweek se Metropolitan Raadsbeker- eindstryde gekenmerk wat voor duisende geesdriftige ouers en ondersteuners in die Hage Geingobstadion beslis is.
![]() So duik ’n man deur die lug wanneer jy ’n driekuns vir jou span behaal. Heelagter Keanen van Wyk was een van die uitblinkers toe Windhoek Gimnasium sy eweknie van WHS in die o.15A eindstryd van die Metropolitan Raadsbeker geklop het. Windhoek Hoërskool (WHS) se spanne het in sewe eindstryde aangetree, maar kon net in drie die botoon voer. In die o.19-Superliga het die bloues bobaas gebly teen Dr. Lemmer van Rehoboth. Die trots van Windhoekse rugby het in die o.14B, o.14A, o.19C en o.15A afdelings hul rieme styfgeloop. In die o.19D en o.19B was WHS wenners asook in die grote van die dag. WHS se eerste span het ’n klinkende oorwinning van 35-13 teen Dr. Lemmer behaal nadat die spanne nog diep in die tweede helfte op 13-elk vasgeknoop was.
Dit was WHS wat in die laaste kwartier die krane wyd kon oopdraai en drie keer die doellyn oorsteek. Dit het aan hulle vyf drieë besorg met senter Johan Deysel wat die ander punte met skoppe bygevoeg het.
Dr. Lemmer kan egter hul kop hoog hou, want die seuns het rotsvas verdedig en hul man goed teen die verdedigende kampioen gestaan. Dit was in daai laaste 15 minute waar dinge so ietwat skeef geloop het en WHS met puik hanteerwerk die agterlyn van Dr. Lemmer oopgevlek het. Lemmer se drie was self ’n bielie.
Die haastige vleuel De Selvano Beukes het die stut ’n lopie begin en ’n paar teenstanders spoke laat sien voordat hy vir Jason Swartz weggestuur het om oor te duik.
Die dodelike skopper Lou Rickerts het die twee punte bygevoeg om die telling 13-13 te maak. WHS se puntemakers was die woelige agtsteman Gerhard Lotter wat twee keer gaan druk het, terwyl Louwrens Mynhardt, Denver Murorua en Hennie van der Westhuizen ook agter hul teenstander se doellyn gaan kuier het. ![]() Gerhard Lotter
• Die o.15A-eindstryd word tradisioneel ook as ’n grote gereken en Windhoek Gimnasium se triomf met 41-7 teen WHS o.15B het sommige van die beste individuele vertonings opgelewer.
Die verloorspan het vroeg in die wedstryd die telbord met ’n drie (agtsteman Peter-John Raubenheimer) en doelskop deur André Augustyn geopen vir ’n 7-0 voorsprong. Dit was egter net ’n kwessie van tyd voordat Gimmies se dodelike kombinasie vlamgevat en die drieë ingeryg het. Die vinnige heelagter Keanen van Wyk en losskakel PJ Singaram het elkeen drie drieë gedruk en die twee van hulle het vir WHS ore aangesit. Beamptes van Windhoek Gimnasium was agterna vol lof vir die manjifieke spanpoging.
Die ander eindstryde se uitslae:
O.14B: Mariental 48 WHS 5 O.14A: Windhoek Gimnasium 34 WHS 21 O.15B: Grootfontein 22 Jan Möhr 13 O.19D: WHS 15 Ella du Plessis 10 O.19C: Gobabis Gimnasium 29 WHS 12 O.19B: WHS 32 Dr Lemmer 15 O.19A: Otjiwarongo 26 HTS 17 O.19 Superliga derde plek: Elnatan 33 Walvisbaai 24 Gaan kyk na nog aksiefoto's op www.namlish.com. |
|