
Sommige van die pragdrieë van die naweek se Metropolitan Raadsbeker eindstryde.
METROPOLITAN Namibia het sy stempel in Namibiese skolerugby afgedruk met die jaarlikse Raadsbeker vir hoërskole. Die kompetisie het in 1969 as die Klopperbekertoernooi begin, maar in 1992 het Metropolitan as hoofborg ingestap en is die eerste fondasie gelê wat die versekeringsmaatskappy tot vandag oortuig het dat sy geld goed belê word.
Die eerste wenner van die Klopperbeker was PK de Villiers van Keetmanshoop. In 1970 en 1971 was WHS kampioene voordat PK de Villiers se gedugte kombinasie in 1972 weer die Klopper-trofee omhoog gehou het. Otjiwarongo wen vir die eerste keer die Klopper-trofee in 1973 en die jaar daarna vat die Hoërskool Walvisbaai ook sy eerste titel.
Toe maak HTS sy verskyning en wen drie agtereenvolgende eindstryde in 1975, ’76 en ’77. In 1978 is dit weer PK de Villiers wat die septer swaai, voordat WHS in 1979 weer seëvier. Wennie du Plessis van Gobabis was in 1980 die sterkste in die land en in 1981 is dit Jan Möhr voordat WHS in 1982 en 1983 die trofee omhoog hou.
HTS behaal sy vierde titel toe die bruintruie 1984 se eindstryd wen. WHS maak weer amok op die rugbyveld toe hulle van 1985 tot 1987 die septer swaai. Etosha (1988), Academia (1989), Grootfontein en WHS (gedeel in 1990) en Academia (1991) was die laaste wenners van die Kloppertrofee voordat Metropolitan in 1992 as die hoofborg van die skoleliga na vore tree.
Grootfontein se naam pronk as die eerste wenner van Metropolitan se trofee voordat HTS in 1993 en 1994 die trofee in sy vertoonkas kon hou. Die jare 1995, 1996 en 1997 verteenwoordig WHS se tweede driekuns. HTS laat weer van hom hoor in 1998, voordat WHS in 1999, 2000 en 2001 sy troon terugwen.
Walvisbaai se oorwinning in 2002 se eindstryd sal nog lank onthou word, voordat WHS in 2003, 2004 en 2005 opnuut ’n driekuns in kampioenskappe inryg.
Stampriet se Privaatskool Elnatan verras die bloues egter in 2006 met ’n welverdiende oorwinning en graveer vir die eerste keer hul naam op die Metropolitan Raadsbeker. Windhoek Hoërskool se oorwinning afgelope Saterdag teen Dr. Lemmer was sy vierde in vier jaar.
Vir hul twee afrigters mnre. Jan Dames en Johan Deysel was dit beide die derde keer wat hulle die bloues tot die hoogste sport gelei het. Tussen 1990 en 2005 was Ettienne Odendaal sewe keer in die blouspan se triomftogte betrokke.