Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

12.03.2010

Skole-atletiek sit beste voet voor

© Boet Matthews
’n Wenspan op soek na Afrika-roem! Van links is Pottie de Bruyn en Frik Oosthuizen (albei van Coca-Cola), Zelda Diergaardt en Sollie Duiker (albei van NSSU) in die wolke toe die borgskaptjek amptelik oorhandig is vir Namibië se aanbieding van die streek- en nasionale atletiekkampioenskap vir hoërskole.

SKOLE-atletiek het ’n reusehupstoot gekry met ’n vonkelende N$90 000 wat by die hoofkantoor van die Namibiese Skolesportunie (NSSU) in Windhoek oorhandig is. Dit is ’n vermenigvuldiging teenoor die vorige jaar se N$42 000 vir die streek- en nasionale kampioenskap vir hoërskole wat op 26 en 27 Maart by die Onafhanklikheidstadion in Windhoek plaasvind.

Die jarelange vriend en vennoot Coca-Cola het opnuut sy geldkoffers geskud sodat plaaslike atlete vanaf o.13 tot o.19- vlak behoorlik kan vlamvat.

Die NSSU se voorsitter vir atletiek, me. Zelda Diergaardt, het aangekondig dat nog ’n deurbraak vir Namibië wag met die aanbieding van die nasionale streekkampioenskap.

“Hierdie byeenkoms staan nou kop en skouers bo alle aanbiedinge en word inderdaad beskou as die plek waar die room van atletiek afgeskep word. Dit is waar talent geïdentifiseer word vir deelname aan die jaarlikse Frank Fredericks-byeenkoms wat ook deur Coca-Cola geborg word.”

Die besturende direkteur van Coca-Cola Namibia, mnr. Frik Oosthuizen, was die segsman met ’n dubbele boodskap. Hy het gesê Coca-Cola het breë weë oopgeslaan op die pad na ontwikkeling, maar daar is ook nog verskeie haperinge in die weg van die ondersoek.

“Ons kan nie wegkom van die feit dat sekere gebiede en gemeenskappe vir jare afgeskeep is nie. Maar dit is juis ons doel om ’n bres te slaan en atletiek op voetsoolvlak aan alle minderbevoooregte te bevorder en ontwikkel. Ons fokus is een honderd persent ingestel op sokker en atletiek en dit is ’n belofte wat ons gaan nakom.”

Die nasionale koördineerder van die NSSU, Sollie Duiker, het by navraag aan Republikein gesê die verhoging van borgskap deur Coca-Cola is vir al die streke en die nasionale kampioenskap.

“Ons kom ’n lang pad met Coca-Cola en kan net met lof praat van die koeldrankreus wat die afgelope 18 jaar insette lewer in skole-atletiek om vir ons by die NSSU ’n prysenswaardige rekord opsy te sit. Met hierdie byeenkomste word ’n nuwe era van atletiek-bewustheid ingelui en die oë van die wêreldbeheerliggaam (IAAF) en die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) sal ferm gevestig wees op toekomstige sporthelde van die atletiekbaan. Vir die heel eerste keer gaan Namibië ook sy juniors hul tree laat gee oor die vlaktes van Afrika met deelname aan die Afrika Junior Spele in Marokko.”