20.01.2012
Sestien spook dit uit vir Afrika-titel
DIE grootste sokkerskouspel op die vasteland begin môre in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee wanneer 16 lande mekaar in die 2012 Afrika Nasiebekertoernooi die stryd aansê.
Die openingskragmeting in die De Bata-stadion in Bata, Ekwatoriaal-Guinee is tussen die tuisspan en Libië (20:30), gevolg deur Senegal teen Zambië (23:00).
Laasgenoemde span is onder druk na hul twee onoortuigende vertonings in vriendskaplike wedstryde teen Suid-Afrika en Namibië waar die Chipolopolo net een doel in sy 1-1 uitslag teen Bafana Bafana kon aanteken. Teen die minder gerekende Brave Warriors kon Zambië nie ’n doel behaal nie.
Hoe ook al, die buurland kom teen Senegal te staan wat as een van die gunstelinge beskou word om tot die uitkloprondes deur te dring.
Senegal kon nog nie tevore die Afrika Nasiebeker wen nie, maar is ’n sterk aanspraakmaker om vanjaar die mees gesogte trofee in Afrika omhoog te hou.
Ander gunstelinge is Ghana, Ivoorkus, Marokko en Tunisië, terwyl verrassings verwag word van Angola, Guinee en Burkina Faso. Die nuweling Botswana kan ook nie onderskat word nie. Die Zebras het in ’n gedugte kombinasie ontpop en was die eerste land wat vir vanjaar se Afrika-skouspel gekwalifiseer het. Die Zebras kan ’n paar strepe trek op die velde van Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee.
Vanjaar se kompetisie word gekenmerk deur die afwesigheid van ’n paar tradisionele sokkerreuse op die vasteland. Waarskynlik die heel grootste is Egipte, wat al drie keer as die Afrika-kampioen bekroon is, maar nie sy plek in die eindtoernooi kon verseker nie. Die Farao’s sal dus die titel afstaan wat hulle in 2010 in Angola verower het.
So moes die sokkermal gemeenskap in Lagos ook hul koppe vasgryp toe Nigerië nie vir vanjaar se toernooi kon kwalifiseer nie. Dit lyk asof die eens magtige Nigerië, wat as die supersterre van Afrikasokker erken is, ’n moeilike tydjie beleef. Wie weet hoe die span in groen, wat Afrika se grootste bevolking van bykans 167 miljoen mense verteenwoordig, gaan vaar wanneer hulle Namibië later vanjaar in ’n Wêreldbeker uitdunwedstryd ontmoet.
In Ghana borrel die mense met selfvertroue en hulle verwag dat die Black Stars met die Afrika Nasiebeker terugkeer.
Net so hou die Ivoorkus duim vas dat hul span vanjaar uiteindelik aan die nasie se verwagtinge sal voldoen. Vir hul sterspeler Didier Drogba (33) en talle van sy ervare spanmaats is hierdie straks hul laaste Afrika-toernooi. Die dodelike voorspeler van Chelsea in die Engelse premierliga het tevore in die Afrika-toernooi min ervarings gehad om oor bly te raak, maar sy span word opnuut as ’n potensiële kampioen opgehemel.
Republikein het ’n paar Namibiese sokkerkenners gevra wie hul gunstelingspan is om volgende maand die Afrika-trofee huis toe te neem.
Brian Isaacs (Black Africa):
“Ivoorkus behoort loshande te wen as na die talle groot name in die span gekyk word. Maar soos in vorige kompetisies kan ’n gebrek aan samespel meebring dat hulle net-net aan die einde struikel. Die ander grotes wat dalk die knoop kan deurhaak, is Ghana en Senegal.”
Lolito Goraseb (gewese Brave Warriors middelveldspeler):
“Ek sit my geld op Senegal, want hulle het voorkeur aan nuwe talent gegee en ’n gedugte kombinasie gebou van spelers wat by top Europese klubs uitblink. Senegal het die momentum om die Nasiebeker in te palm. Ghana het ná die Wêreldbeker in Suid-Afrika glans verloor en die uittrede van ’n paar sleutelspelers maak dinge moeilik. Ek is oortuig dat van die kleiner lande ’n paar verrassings gaan lewer soos ons die afgelope tyd in groot toernooie gesien het.”
Tollie van Wyk (afrigter van Tigers):
“Ek glo Senegal speel as ’n eenheid en het sleutelspelers wat by groot internasionale toernooie die druk goed hanteer. Boonop is hulle bekend vir bestendige spel. Die ander groot aanspraakmaker is Ghana, wat op hul dag enige opponent kan klop.”
Denzil Bruwer (gewese doelwagter van Namibië):
“Die span wat vir my die beste lyk, is Senegal as gekyk word na hul vorm tot voor vanjaar se kompetisie. Ek glo ’n speler soos Demba Ba van Newcastle, om net een te noem, wys die ongelooflike talent in die span. Die afwesigheid van ’n driemalige kampioen soos Egipte maak die pad verder oop vir Senegal. Ghana is my tweede gunsteling, want hulle het ’n kombinasie van jeug en ervaring en sal wil voortbou op die 2010 Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika toe hulle in die kwarteindronde verloor het.”