3.02.2010 Sege rek Stars se voorsprong
 Aksie tydens Saterdag se MTC Premierliga-kragmeting tussen Black Africa en United Stars.
ALI Akan kry vanaand nog ’n kans om te bewys dat hy Oshikandela Ramblers weer in een van die mees gevreesde sokkerkombinasies in die and kan ontwikkel wanneer sy span teen Orlando Pirates te staan kom. Die stryd begin om 20:00 by die Sam Nujoma-stadion in Katutura. Maklik gaan dit nie wees nie, want Dawid Snewe se Seerowers ry op die kruin van die golf en met ’n tweede plek op MTC se punteleer blaas hulle in die nekke van African Stars.
’n Sege vanaand en die twee spanne beklee gesamentlik die boonste posisie. Rammies het niks om te verloor nie. Inteendeel, dit is Pirates wat onder druk is en sy aanhangers verwag dat hulle bo-oor Ramblers moet seil. Na die naweek se uitslae lyk dit asof African Stars vir ’n tweede agtereenvolgende jaar die MTC Premierligatitel en die prysgeld van N$600 000 in sy sak wil steek.
Na Vrydagaand se blink vertoning teen Wesbank Tigers is Bobby Samaria se sterre die gunstelinge om hul posisie as ligawenners met trots te verdedig. Samaria is egter ’n man wat nie vooruit lugkastele bou nie en verkies om te wag tot die beslissende kragmeting voordat hy sy sakrekenaar uithaal om sommetjies te maak.
Die paar duisend aanhangers van African Stars is ook oortuig hul span speel kookwater sokker en dat hulle nóg ’n jaar met MTC se Premierliga trofee gaan pronk. Vrydagaand moes hulle vir 45 minute naels kou, want die eerste helfte het geen doele opgelewer nie. Brian Isaacs se Tiere het tande gewys en vas geklou.
Stars het na die omdraaislag gewys hoekom hulle verlede seisoen die titel gewen het en met aanskoulike en aanvallende spel die tande van die Tiere getrek. Twee doele, onderskeidelik deur Ninja Karongee en Ronald Ketjijere, het gesorg dat African Stars sy voorsprong op die punteleer na drie punte rek. Sy naaste teenstander, Orlando Pirates, moes met ’n 0-0 telling teen die besoekers uit die Noorde, Oshakati City, tevrede wees.
Die uitslag is nogal ’n tameletjie vir die Seerowers en hul aanhangers. Oshakati City staar die relegasiespook in die gesig, terwyl Pirates in die skaduwee van African Stars beweeg. Nog ’n grote wat vasgeval het, is Black Africa. Die Leeus van Ricardo Mannetti is tot ’n 2-elk uitslag beperk deur United Stars van Rundu.
Doer op Walvisbaai het Eleven Arrows een van sy beste oorwinninmgs van die 2009/2010 seisoen behaal toe hy vir Civics met 3-0 verslaan het. Inderdaad ’n goeie aansporing vir die nuwe afrigter, Congo Hindjou. Vir Civics is dit terug na die tekenbord.
In die Khomasdalstadion het Hotspurs sy kans op oorlewing in die Premierliga ’n hupstootjie gegee met ’n welverdiende 3-1 sege oor Blue Waters. Die wedstrydprogram vir die naweek. Vrydag: Sam Nujoma-stadion: Black Africa tn Hotspurs 20:00.
Saterdag: Uukwangula-stadion: FNB Oshakati City tn Civics 16:00; Kuisebmond-stadion: Eleven Arrows tn African Stars 16:00; SKW-stadion: Cymot SKW tn Blue Waters 16:00; Sam Nujoma-stadion: Wesbank Tigers tn United Stars 19:00.
|