
Tom Saintfiet
DIE sonnige Seychelle gaan Saterdag die plek wees waar Namibië se Brave Warriors in die eerste been van die kwalifiserende rondes van die Afrika Nasiebeker vir amateurs te staan kom.
Die kompetisie is verlede jaar deur die Konfederasie van Afrika Sokkerverenigings (CAF) op die been gebring sodat amateurspelers wat in hul eie lande se ligas uitdraf, ook geleenthede kry om deure vir hulself oop te skop.
Afrigter Tom Saintfiet het die naweek sy groep van 18 spelers bekendgemaak en veilig gespeel met name waarop enige afrigter kan staatmaak.
Die Warriors word opnuut deur al wat sokkerliefhebber in Afrika met respek bejeën na hul skitterende vertoning verlede Woensdag teen Bafana Bafana in Durban.
In die afwesigheid van Namibië se beroepspelers sal Saintfiet sy volle aandag op hierdie belangrike eerste wedstryd in die kompetisie vestig en hy sal graag met ’n voorsprong na die tweede ronde aanbeweeg.
Hy het beklemtoon dat die blink vertoning teen Suid-Afrika vir hom al klaar geskiedenis is en dat sy fokus nou op die Caf-kompetisie ingestel is.
Die span is ’n mengsel van jeug en ervaring en altesaam tien van die spelers wat na Durban gereis het, is ook in die groep vir Saterdag. Die jeugdige Eusebio Fredericks van Ramblers is een van die ontluikende jong sterre van wie nog groot dinge verwag word.
Ook die indrukwekkende middelveldspeler van African Stars, Ronald Ketjijere, word veral dopgehou. Saintfiet het ook die MTC Premierliga se twee giftigste doelskieters, Tangeni Shipahu (Tigers) en Jerome Louis (Black Africa), terug verwelkom.
Doelwagter Attiel Mbaha, wat al bekend geword het daarvoor dat hy die beste spanne met sy uitstekende keerwerk kan frustreer, het teen Bafana Bafana weer sy staal getoon en het die Suid-Afrikaners laat sweet voordat hulle uiteindelik 20 minute voor die einde die gelykmakende doel verby Mbaha kon stuur. Mbaha word wyd onthou vir sy vangskote in die nasionale kleure van Namibië. Sy manjifieke reflekse en akrobatiese keerwerk het die verbeelding van menige sokkerkenner aangegryp.
Hy was ook ’n staatmaker wat gesorg het dat die Brave Warriors by die 2008 Afrika Nasiebeker in Ghana kon deelneem vanweë sy vertonings in die uitdunrondes.
Saintfiet het benadruk dat die magtige vertoning in Durban ’n spanpoging soos min was en dat die hele groep lof moet verdien vir hul streng dissipline en samehorigheid.
“Boodskappe van gelukwensing het ingestroom en ek waardeer dit. Ek het intussen in hart en siel die Namibiese hoofafrigter geword en met sulke knap leierskap van John Muinjo en die Namibiese Sokkervereniging (NSV) sal dit maar sukkel om my uit die Brave Warriors-kamp te kry. My kontrak loop in 2012 tot ’n einde, maar as die Namibiërs my dienste wil behou, sal ek beslis my hand in die lug opsteek.
"Maar vir eers is my missie om verby Seychelle te vorder en dan die volgende ronde met ewe veel geesdrif aan te pak. Daarna moet ons die Warriors op volle sterkte begin skaaf vir wedstryde in die volwaardie kwalifiserende rondte van die 2012 Afrika Nasiesbeker wat gesamentlik deur Ekwatoriaal-Guinee en Gaboen aangebied word.”