
Tom Saintfiet
DIE storm rondom die kop van Tom Saintfiet, afrigter van die Brave Warriors, het gister in felheid toegeneem. Sowel Saintfiet as die president van die Namibiese Sokkervereniging (NSV), mnr. John Muinjo, het gisteraand se berigte in die internasionale media dat Saintfiet die trekpas gegee is, heftig ontken. Beide was klaarblyklik stomgeslaan.
Die 37-jarige Belg het die afgelope dae vir hoofopskrifte op sportblaaie gesorg met beweringe dat Zimbabwe hom afrigter van hul eie Warriors wil maak. Hy is glo benewens Marc Duvillard en Norman Mapeza die topkandidaat vir die vakante pos.
Volgens The Standard, ’n Sondagkoerant van Zimbabwe, is altesaam 13 aansoeke ontvang en is Saintfiet op die kortlys van ses om die nasionale span oor te neem. Saintfiet is egter nog tot 2012 by Namibië gekontrakteer en het deurgaans volgehou dat hy volstoom gefokus is om Namibië vir die Afrika Nasiebeker te help kwalifiseer.
Hy en Muinjo het gisteraand beide gesê hulle is uit die veld geslaan met die Sapa/AFP-berig, wat onder meer op SuperSport se webblad geplaas is, dat die Namibiese breier sy pos kwyt is ná die naweek se 3-1 neerlaag teen Gambië. In die berig is Saintfiet aangehaal dat Muinjo hom glo gebel en die keuse gebied het om te “spring” of te wag tot hy “gestoot” word.
Die afrigter is glo ingelig dat hy nie meer die ondersteuning van Muinjo óf die NSV het nie. Aan Republikein het Muinjo gesê hy weet geen sout of water van dié storie nie. Hy het erken dat hy gister hard met die afrigter gepraat het en aangedring het op beter resultate as wat die Brave Warriors tot dusver kon lewer.
“Die NSV het Saintfiet aangestel vir veel beter uitslae as wat tot dusver gelewer is. Ek kry die indruk dat sy fokus soms op die verkeerde plek is. Daarby reageer hy partykeer soos ’n ‘cry baby’. Hierdie soort reaksie kom dikwels van Europese afrigters, maar Saintfiet moet onthou hy is nou in Afrika en hy rig ’n Afrika-span af.
“Ek het dit aan hom duidelik gestel dat hy as afrigter verantwoordelik is vir resultate en verskonings sal nie langer werk nie.
“Die Warriors het in 2007 met ’n span bestaande uit net tuisgebonde spelers in ’n wegwedstryd vir Ethiopië geklop om te bewys daar is niks met ons talent verkeerd nie. Niemand het die Warriors ’n kans gegee nie, maar hulle het nogtans voortgebeur en vir die 2008 eindtoernooi in Ghana gekwalifiseer.
“Ek stel dit nou onomwonde dat die NSV nie vir Tom Saintfiet die trekpas gegee het nie. Waar hierdie stories en sy sogenaamde veldtog vir die Zimbabwe-pos vandaan kom, sal net die skrywers weet.”
Saintfiet het enkele ure ná die Warriors se aankoms in Windhoek ewe uit die veld van die nuus kennis geneem. Sy woorde aan Republikein was: “Ek weet absoluut niks hiervan nie. Ek weet nie waar hierdie storie se oorsprong is nie, maar wat ek wel weet, is dat die NSV my beslis nie in die pad gesteek het nie.
“Mnr. Muinjo het die integriteit en volwassenheid om my onmiddellik self van so ’n dramatiese besluit in kennis te stel. Dit het nie gebeur nie en tot tyd en wyl ek so ingelig word, bly ek die afrigter van die Brave Warriors tot in Oktober 2012.”
Mnr. Muinjo het gister self gewaarsku dat gerugte die manier het om een of ander tyd waar te word. Hy het weer bevestig dat al die beweringe ondersoek word en indien die gerugte Saintfiet se aandag van sy werk aflei, sal dit onprofessioneel en oneties van hom wees.
“Ons is bewus van die gerugte dat Saintfiet op soek is na groener weivelde en die een of ander tyd sal sy verskonings ’n einde moet kry.”
Saintfiet hou steeds vol dat hy geen kontak met enigiemand uit Zimbabwe gehad het nie. Hy hou ook vol dat sokkeragente soms “namens jou en sonder jou wete” met sulke onderhandelinge begin.