Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

7.09.2010

Saintfiet in sop oor Zim-storie


Tom Saintfiet
ASOF Tom Saintfiet, afrigter van Namibië se sokkerspan, nie genoeg hooi op sy vurk het ná die Brave Warriors se kommerwekkende 3-1 neerlaag die naweek teen Gambië nie, het hy vandag met die span se terugkeer na Windhoek ’n ekstra vuurtjie om dood te slaan.

Die Zimbabwiese Sondagblad The Standard het die naweek berig dat Saintfiet op die kortlys van ses is om dié buurland se nasionale span, ook genaamd die Warriors, oor te neem. Die Belgies-gebore afrigter is egter tot Oktober 2012 by Namibië gekontrakteer.

Hoewel Saintfiet gister telefonies uit Accra, Ghana aan Republikein die versekering gegee het dat hyself geen kontak met enigiemand uit Zimbabwe gehad het nie, het die president van die Namibiese Sokkervereniging duidelik laat blyk dat hierdie beweringe in ’n ernstige lig ondersoek word.

Mnr. John Muinjo, president van die NSV, se reaksie was: “Dit is nie die eerste keer wat ons sulke gerugte hoor nie, en sulke gerugte het die gewoonte om een of ander tyd waar te word. Ons sal die beweringe deeglik ondersoek. As bevind word dat sulke dinge sy aandag van sy werk aflei, is dit onprofessioneel en oneties.”

John Muinjo
Op ’n vraag oor hoe ernstig die NSV sal wees om Saintfiet te behou indien ’n ernstige aanbod vir sy dienste op die tafel beland, het Muinjo gesê: “In hierdie stadium is (die Brave Warriors se) uitslae nie goed nie, so wat agter die skerms gebeur, hang van hom (Saintfiet) af. As die afrigter goed gevaar het, sou ons dalk bekommerd gewees het. Na die neerlaag (met 3-1 teen Gambië) kom hy met allerhande verskonings vorendag en wys vingers na verskillende oorde. Dit is ook nie die eerste keer dat ons gerugte hoor dat hy groener weivelde soek nie.”

Saintfiet het sowat twee weke gelede reeds mediaberigte ontken waarin hy as een van die aansoekers vir die Zimbabwiese pos genoem word. Die kortlys is intussen van 12 name na ses uitgedun, met Saintfiet en Marc Duvillard as die enigste nie-Zimbabwiërs in die soeke na die opvolger vir Sunday (Mhofu) Chidzambwa wat in Maart bedank het. Saintfiet het gister gesê hyself het geen kontak met enigiemand uit Zimbabwe gehad nie.

“Ons het die afgelope dae in Ghana en Gambië nie internet gehad of koerante gesien nie. Al wat ek weet, is dat die Namibian Sun my so twee weke gelede hieroor uitgevra het. Dit mag gebeur dat sokkeragente namens jou sulke onderhandelinge begin, maar ekself was nie betrokke nie. Ek kry wel van tyd tot tyd aanbiedinge van spanne in Afrika – onder meer ’n onlangse een van ’n topklub op die vasteland.”

Die ses afrigters wat glo op Zimbabwe se kortlys is, is Saintfiet, Marc Duvillard, Norman Mapeza, Cosmas (Tsano) Zulu, Joey Antipas en Godfrey Tamirepi. Saintfiet en Duvillard is die mees prominente twee.

Duvillard was vantevore afrigter van Zimbabwe. Volgens The Standard het Kenny Marange, voorsitter van die keurkomitee, gesê onderhoude is reeds met drie van die ses gevoer.

Onderhoude moet glo nog net met Mapeza (die huidige waarnemende afrigter wat Zimbabwe die naweek tot ’n 1-1 gelykopuitslag in sy wegwedstryd teen Liberië gelei het), sy assistent Antipas en Duvillard gedoen word.

Mapeza en Saintfiet is volgens The Standard die gunstelinge vir die pos. Saintfiet en die Brave Warriors word vanoggend terug in Windhoek verwag.