23.07.2008
Rugbyspan slyp tande vir Zimbabwe
DIE Hage Geingob-stadion gaan hierdie naweek dreun met rugby. Die Metropolitan hoërskoleligas se kwarteindstryde begin Vrydag en word Saterdag voortgesit. Om 15:30 draf die Namibiese seniorspan teen ‘n Suid-Afrikaanse Universiteitspan uit. Dit behoort ‘n goeie opwarmwedstryd te wees voordat Namibië die volgende Saterdag hier teen Zimbabwe uitdraf.
Die Namibiese rugbyspan het die eerste hekkie na die 2011 Wêreldbeker oorgekom met ‘n naelskraapse 13-10 oorwinning teen Senegal in Dakar. Dit was danksy ‘n strafdoel in die eerste helfte deur Namibië se heelagter, TC Losper en drieë in die tweede helfte deur die stut Johnny Redelinghuys en, met net drie minute oor, deur die kaptein en flank Jacques Nieuwenhuis. Senegal moes na Harare reis om op 12 Julie teen Zimbabwe te speel.
Die wedstryd het nog nie plaasgevind nie vanweë die politieke onrus in die land. Die uitslag van Namibië se wedstryd op 2 Augustus teen Zimbabwe in die Hage Geingob-stadion sal bepaal of dit nodig is vir Senegal om wel nog teen Zimbabwe te speel. ‘n Sege vir Namibië sal dus die enkelronde in Groep A beklink en beide Senegal en Zimbabwe uitskakel in die wedloop om die 2009 Afrikabeker én die 2011 Wêreldbeker.
Slegs die wenners van die vier groepe kwalifiseer vir die halfeindstryde van volgende jaar se Afrika-beker. Die Afrika-kampioen kwalifiseer outomaties vir die 2011 Wêreldbeker wat in Nieu-Seeland gaan plaasvind. Die Namibiese oefengroep wat onlangs deur die NRU aangekondig is, sluit 13 Namibiese spelers wat rugby buite die landsgrense speel, in. Kaartjies vir Saterdag se wedstryd is by die NRU beskikbaar (tel. 251 775).
Jacques Nieuwenhuis en Jané du Toit (stut) sluit eers Sondag by die span aan en is dus net vir die Zimbabwe- wedstryd beskikbaar. Die Boland se senter en kaptein, Piet van Zyl, is beseer en sy beskikbaarheid vir die Zimbabwe- wedstryd sal eers volgende week bekend wees. Die NRU wag ook angstig op ‘n antwoord van die Blou Bulle oor die beskikbaarheid van hul vurige Namibiese losvoorspeler, Jacques Burger.
Die Namibiese afrigter, mnr. John Williams, gaan die ander spelers wat in die groep is gebruik vir die naweek se wedstryd. Die SA Universiteitspan: 1 Herbert Mayosi (UCT), 2 JP Coster (UCT), 3 Flippie Pienaar (Noordwes), 4 Jaco Nepgen (Stellenbosch), 5 Walt Vermeulen (Vrystaat Universiteit), 6 Wesley Wilkens (Stellenbosch), 7 Sokhana Mkanu (Fort Hare), 8 Willem van der Wal (Noordwes), 9 Jean Tiedt (Noordwes), 10 Shaun Davids (Universiteit Pretoria), 11 Ziniko Dumaphi (Fort Hare), 12 Wayne Stevens (Vrystaat Universiteit), 13 Johan Jackson (Universiteit Pretoria), 14 Morne Jooste (Stellenbosch), 15 Therlo Pietersen (Stellenbosch).
Die reserwes is Edgar Marathuli (Noordwes), BG Uys (Noordwes), Jonathan Adendorf (Stellenbosch), Makhalima Mandla (Walter Sisulu Universiteit), Marlin Ruiters (Vrystaat Universiteit), Paul Bosch (Noordwes) en Cameron Jacobs (Vrystaat Universiteit). Die afrigters is Matt Proudfoot (hoofafrigter), Robbie Fleck en Xolofile Dakushe.