24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.08.2010

Rolbal skitter in Harare

Onse Graham pure Goud!

© Boet Matthews

GRAHAM Snyman van Namibië bly die enkelspelkoning van Afrika-rolbal. Die veteraan het Saterdag sy goue titel met welslae by die Afrika Statekampioenskap in Harare verdedig ná ’n uitmergelende uitdunsessie van ses wedstryde waarna hy opnuut as kampioen in die mans enkelspel bekroon is.

Snyman was een van Namibië se vlagdraers by die kampioenskap waaraan sewe lande deelgeneem het en het sy span aangehelp om algeheel derde te eindig ná Zimbabwe met 36 punte en Suid-Afrika (35), met Namibië ’n skrale een puntjie agter sy buurman. Namibië het oudergewoonte geskitter by die byeenkoms en goud losgerol in die driespel vir mans en die vroue parespel.

In die dubbelspel vir mans was ’n bronsmedalje die oes. Diana Viljoen was self ’n blink ster in die enkelspel vir vroue en haar akkuraatheid het aan haar uiteindelik ’n silwermedalje besorg. Sy het in haar aanloop net twee keer verloor, terwyl Snyman in die mans enkelspel net een keer in sy ses wedstryde die knie moes buig.

Snyman het ’n hoë standaard op pad na die titel gehandhaaf. In sy eerste wedstryd klop hy ’n Zambiër met 22-7, toe wen hy met 21-11 teen Swaziland en beklink sy derde wedstryd teen ’n Suid-Afrikaner met 21-14. Sy enigste nederlaag was teen Botswana (21-16), net om daarna reg Kenia (21-13) en Zimbabwe (21-11) te ruk teen.

Diana Viljoen se enkelspel-silwer was welverdiend. Sy het haar eerste wedstryd teen ’n Zambiër met 21-13 gewen en toe met 21-6 teen Swaziland, voor sy haar met 15-21 teen Suid-Afrika vasgeloop het. In ’n regrukpoging het sy Botswana met 21-17 geklop en daarna ’n Keniaan met 21-7 verniel.

In haar laaste wedstryd het ’n Zimbabwiër haar met 20-8 van die goue medalje weerhou. Namibië het sommer vroeg in die taai weeklange kompetisie sy stem dik gemaak toe Diana Viljoen en Theuna Grobler goud in die parespel vir vroue verwerf het.

Dit is opgevolg met nog ’n gouemedalje in die driespel deur Willie Esterhuizen, Sandy Joubert en Jean Viljoen. Die medalje-oes is afgerond met Graham Snyman en Will Esterhuizen (jnr) wat ’n bronsmedalje in die dubbelspel losgerol het.