24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

24.02.2010

Resies om die boonste plek versnel

DIE boonste twee plekke op MTC se Premierliga bly onveranderd na die naweek se uitslae. Die voorloper African Stars is deur Oshikandela Ramblers tot ’n 1-1 gelykopuitslag gedwing.

Ali Akan se Rammies kon met meer geluk die kragmeting in die Sam Nujoma-stadion gewen het. Orlando Pirates beklee die tweede plek, maar hy kan homself gelukkig ag met die uitslag van 1 elk teen Cymot SKW.

Cymot het rustyd met 1-0 voorgeloop danksy die hotklou van Edwin Korukuve wat die uitgestrekte arms van Pirates se doelwagter Attiel Mbaha geklop het. ’n Omstrede elf meter strafskop diep in die tweede helfte het Pirates se Boetetjies Seibeb die kol laat tref. In Katutura het Ramblers die duisende aanhangers van African Stars vroeg in die kragmeting geskok met ’n doel deur die jongman, Eusebio Fredericks.

Laasgenoemde het na 120 sekondes die doelhok van die verdedigende kampioen getref. Maar kort voor rustyd het die telbord gelyk getrek nadat African Stars se Dennis Nqueza ’n doel behaal het.

Die klub met die klomp groot name en baie geld, Eleven Arrows, is besig om sy voete te vind. Daar is baie verwag van die kombinasie van Walvisbaai toe die 2009/2010-seisoen begin het.

Die eienaar, Johnny Doëseb, het duisende Namibiese dollar ingepomp om die topspelers na Arrows te lok. Dinge het erg skeef geloop en die span kon nie regtig vlam vat nie. Die afrigter, Ronny Kanalelo, is in die pad gesteek en skielik het die nuwe breier, Congo Hindjou, met ’n wenresep gekom.

Arrows het Saterdag die tande van Black Africa getrek en die skaal met 1-0 in sy guns geswaai. Dit is Hindjou se derde agtereenvolgende oorwinning wat sorg dat Arrows die vyfde plek op die punteleer inneem. Die goue skopskoen van Romanus Shilongo het Saterdagaand die vure in Kuisebmond hoog laat brand.

In Windhoek het Civics nog ’n sege behaal toe hy vir Blue Waters met 3-1 geklop het. Die “Civilians” spog nou met 21 punte, slegs drie punte minder as Blue Waters. Doer in die Noorde het Oshakati City een plek op die punteleer opgeskuif toe hy die Derby teen sy buurman United Stars met 3-1 gewen het.

Vanaand (Woensdag) kry Orlando Pirates geleentheid om die boonste plek op MTC se punteleer in te neem as hy teen Hotspurs wen.

Hotspurs is heel onder aan die punteleer, maar dit beteken nie dat Pirates bo-oor hulle sal hardloop nie. Aikona, die span is onvoorspelbaar en spook om sy plek in die Premierliga te behou.

Op papier en huidige vorm behoort Dawid Snewe se Seerowers egter die knoop deur te haak.

Ander wedstryde:

Vrydag:
Sam Nujoma-stadion: Civics tn Cymot Skw (20:00);

Saterdag:
Kuisebmond-stadion: Blue Waters tn African Stars (16:00);
Oscar Norich-stadion: United Stars tn Oshikandela Ramblers (16:00);
Sam Nujoma-stadion: Wesbank Tigers tn Eleven Arrows (17:00); Black Africa tn FNB Oshakati City (19:00).