
Wacca Kazombiaze
ELKE nuwe rugbyseisoen bring sy veranderinge en verwisseling van spelers van een klub na ’n ander. Spelers trek nog altyd agter beter aanbiedinge en beter vooruitsigte aan, en dis ook reg so.
Hierdie manne werk bitter hard aan roem en ereplekke op die rugbyveld. Rehoboth-rugbyklub, wenner van die MTC Premierliga in 2009, begin die nuwe seisoen nie net sonder afrigter Jood Opperman nie, maar ook sonder sy beminde David “Poeding” Philander.
Die glibberige Namibiese senter sal voortaan sy gewig by United ingooi ná sy aanwysing as die land se rugbyspeler van die jaar in 2009. Aan die ander kant van die swaar rugbyskaal is Wacca Kazombiaze as een van die “bachelors” van Namibiese rugby.
Hy het sy geliefde Western Suburbs vir Reho Falcon verlaat in sy finale aanslag om vir ’n tweede keer die nasionale span na die 2011 Wêreldbeker te vergesel. Beide Philander en Kazombiaze glo elke denkbare kans moet in die beroepsera aangegryp word om die hoogste sport te behaal, en dis presies wat hulle in gedagte het.
Poeding en Wacca het met groot hartseer afskeid geneem van hul onderskeie klubs, maar albei sien die nuwe aanbiedinge as ’n hulpmiddel om hul groot ideale te verwesenlik. Rehoboth en Western Suburbs sal beide hul verliese moet verwerk.

David “Poeding” Philander
Vir beide is insluiting in die Namibiese span na Nieu-Seeland in 2011 ’n einddoel, en beide is oortuig hulle het die grofgeskut om dit te vermag. Poeding het verlede jaar die verbeelding aangegryp met sy vlugvoetige breekslae vir Rehoboth, terwyl Wacca opnuut verstom het met sy onblusbare veggees.
Philander het juis in die toets teen Rusland op 30 Januarie in die Hage Geingob-stadion die gaping geslaan wat tot Wacca se wegbreekdrie gelei het. Philander het by navraag gesê Unitedhet hom ’n aanbod gemaak wat hy eenvoudig nie kon weier nie.
“Ek is ’n man wat beplan om in Mei met my ‘bokkie’ te trou en elke sent word nou belangrik. Ek was altyd getrou aan Rehoboth en sal altyd met net die grootste respek en liefde terugdink aan my dae saam met die formidabele Jood Opperman en my spanmaats. Die lewe beweeg aan en behoeftes verander. Ek het gedoen wat ek dink is reg en my uiteindelike doel is steeds om my land met eer by die Wêreldbeker te verteenwoordig.”
Hy het gesê die mooiste herinnering van sy dae by die Rehoboth Rugbyklub was dat almal soos ’n hegte familie saamgewerk het. Die aansporing van Opperman as hoofafrigter, sy spanmaats en die fanatiese ondersteuners was eenvoudig ongelooflik, sê hy. Die reuseslot
Wacca voel min of meer dieselfde oor sy skuif na die Valke. Hy het in 1999 as jongeling sy buiging in die nommer 4-trui by Unam gemaak en tot in 2001 daar gespeel. In 2002 en 2003 was hy ’n gereelde steunpilaar vir Rehoboth Rugbyklub en daarna het hy die skuif na Suburbs gemaak.
Hy moes saam met sy spanmaats tot in 2008 wag voordat die klub die Premierliga gebuit het. Sy trefkrag in die vastespel en puik lynstaanwerk het gesorg dat hy sedert 2006 ’n gereelde lid van die nasionale span geword het. Hy dink met heuglike herinneringe terug aan al sy internasionale wedstryde, maar die Wêreldbeker van 2007 in Frankryk was ongetwyfeld die hoogtepunt.
Sy grootste wens is om in 2011 in Kiwiland op dié drome voort te bou en sy loopbaan op die absolute beste manier af te sluit. Wacca het gesê sy skuif na Reho Falcon is meegebring deur die feit dat die klub nader aan sy huis is. Dis nou afgesien van die hope vertroue wat die Valke in hom gestel het.
“My doel is om my vaste spel te verbeter en vir oulaas by die Wêreldbeker te bewys die era van rotsvaste slotte het aangebreek. Ek wil ook my ervaring saam met jongelinge by Reho Falcon deel.”