8.02.2012 Ramblers takel Civics
’n PAAR spelers wat onlangs van klubs verwissel het, maak vanaand se ontmoeting tussen Ramblers en Civics baie interessant en volop aksie word in dié MTC Premierliga sokkerwedstryd verwag wat om agtuur in die Sam Nujoma-stadion afskop.
Sadney Urikhob en Alessandro Ferreira dos Santos het onlangs die kamp van Ramblers verlaat en pronk deesdae in die kleure van Civics.
Urikhob is ’n belowende jong voorspeler wat reeds in Bernhard Kaanjuka se Brave Warriors-kombinasie ingesluit is.
Dos Santos is ’n gebore Brasiliaan met baie talent in die middelveld en ’n goeie oog om die verdediging met sy briljante aangeewerk oop te vlek.
Hierteenoor het Samuel Goagoseb vanaf Civics oorgestap om by Ramblers sy potensiaal bloot te stel.
Hoe ook al, beamptes in albei kampe is vol selfvertroue dat hulle aan die wenkant sal eindig.
Ramblers beklee tans die vierde plek op die punteleer met 20 punte ná 12 wedstryde, terwyl Civics tot die sesde plek met 18 punte opgeskuif het. Twee punte is die verskil tussen twee spanne wat beide oorgehaal is om die Sam Nujoma-stadion as wenners te verlaat.
Die spanne se ondersteuners skuif reg vir ’n derby vanuit die boonste rakke. Puik sokker, ’n gespook om balbesit in die middelveld en akkurate aangeë wat in doele omskep word, is van die verwagtinge vir vanaand se MTC Premierliga-riller. Duime word vasgehou dat die weer saamspeel en dat goeie gedrag op die pawiljoen die botoon voer.
|