
Samuel en sy ma, me. Katrina //Gowases, wys die noodreisdokument wat sy ontvoerders na Angola vir hom gereël het. Voor sy jonger broertjie, Darryl.
’n ENKELMOEDER moes die afgelope maand duisende Namibiese dollar betaal om haar seun uit Angola terug te kry wat onder valse voorwendsels deur internasionale mensehandelaars uit die land bedrieg en ontvoer is.
Die onthulling op Khorixas bevestig dat Namibië inderdaad die afspringplek geword het van ’n sindikaat met kontakte binne die Regering en wat jong mense lok om hulle iewers in die wêreld te gaan verkoop, terwyl die boewe op bedrieglike wyse duisende dollar van niksvermoedende ouers insamel.
Die Unam-student Samuel “Shafishuna” //Gowaseb (21) het aan Republikein die tydelike noodreisdokument gewys wat die boewe vir hom by die Namibiese doeanekantoor op Oshikango bekom het – ’n bewys dat die sindikaat konneksies in die staatstruktuur het.
Die jongman, wie se geval hopelik die internasionale netwerk van boewery kan help ontmasker, is deur middel van die internet mislei en op 22 Julie uit Khorixas ontvoer om uiteindelik deur mensehandelaars verkoop te word.

Die reisdokument wat die sindikaatlede by die doeanekantoor op Oshikango vir Samuel uitgereik het.
Gelukkig vir hom is Interpol en die Namibiese ambassade in Angola net betyds oor sy verdwyning ingelig, wat die boewe genoop het om hom soos ’n warm patat in die vreemde te laat.
Die skurke is vermoedelik deur regeringsbronne en -kontakte van die verwikkelinge ingelig. In Republikein se onderhoud by sy ouerhuis op Khorixas ná sy terugkeer uit Luanda, het //Gowaseb vertel dat hy voor sy ontvoering op die internet na kontakte en onderwysinstellings gesoek het wat hom kon help om sy droom te verwesenlik om ’n mediese dokter te word.
Belowende terugvoering het op sy selfoon gekom dat hy die verlangde opleiding in Rusland kan kry.
“Twee mans in ’n grys Mercedez Benz het my op 22 Julie op Khorixas by die Total diensstasie ontmoet. Die twee mans in donkerbrille het onmiddellik my selfoon afgevat en na Windhoek se kant koers gevat.
“Hulle was baie duidelik nie Namibiërs nie. Hulle was buitengewoon groot en het net Engels gepraat. Hulle het mekaar ook nie op name genoem nie maar net titels soos ‘doctor’ of ‘sir’.”
“In die Khomas-streek is ek na ’n plek soos ’n lodge geneem waar ek by 49 ander jongmans van min of meer my ouderdom aangesluit het,” het //Gowaseb vertel. Volgens hom is hulle vir ’n week daar aangehou, maar verbied om mekaar hul kontakbesonderhede te gee. Hulle is deur ’n wag opgepas. In dié tyd is hy aangesê om sy ma te bel en N$8 500 vir studiegeld te vra. Steeds niksvermoedend het hy sy ma gebel wat toe N$8 700 in sy bankrekening inbetaal het.
Nadat die geld inbetaal is, het hy en sy ontvoerders daagliks geldbedrae by ’n Bank Windhoek-OTM gaan onttrek. Hy is ook twee pare donkerbrille gegee wat hy verplig was om te dra terwyl hy geld onttrek.
Tydens hul verblyf by die lodge het een van die ontvoerders vir die groep mediese induksiekursusse begin aanbied.
Na ’n week is hulle almal volgens hom “in ’n wit vliegtuig” na Luanda, Angola gevlieg.
Ná net twee dae in Angola het twee van die ontvoerdersgroep, wat intussen tot 15 aangegroei het, hom gevra om saam te ry. Die ontvoerders het hom ’n hele ent verder in Luanda afgelaai met die woorde “Ons kom haal jou netnou.”
Hulle het nooit weer opgedaag nie en Samuel het vir vyf ure in die strate van Luanda se Samba-distrik rondgedwaal op soek na iemand wat hom ’n heenkome kon bied of minstens verduidelik waar die naaste polisiestasie is.
Hy het erg gesukkel om iemand te vind wat Engels magtig was.
Uiteindelik het hy ’n polisieman teëgekom wat hom na die polisiestasie gebring het waar hy die nag geslaap het. Die volgende oggend is probeer om die Namibiese ambassade in Luanda te kontak, maar ’n hele week het verbygegaan voor hulle die ambassade kon opspoor. Eers toe het die ambassade se amptenare hom kom wegvat.
Volgens hom was die ambassade reeds van sy verdwyning ingelig en kon hulle sy ma in Khorixas bel en vertel dat hy opgespoor is.
Hy het nog ’n week by die ambassade deurgebring, want die ambassade het sy ma geld laat stuur vir haar seun se vliegkaartjie tot in Onghiva. Me. Katrina //Gowases het toe N$1 700 gestuur waarmee die kaartjie gekoop is.
Sy moes nog N$700 na ’n vriend op Oshikango stuur om hom te gaan haal. Hy is verlede Donderdag deur dié vriend tot in Otjiwarongo gebring waar sy ma hom gaan optel en na Khorixas teruggebring het.
//Gowaseb, wat steeds senuagtig en sku vir mense is, wil graag ’n dokter word, maar omdat sy ma ’n enkelmoeder is wat skoonmaakwerk vir die staat doen en nie vir sy klasse kan betaal nie, het hy ’n bekostigbare uitweg gesoek.
Hy sê hy wonder wat van sy ander makkers geword het wat opsigtelik nie Namibiërs is nie. “Hulle is ook swart seuns soos ek, maar duidelik uit ander Afrikalande afkomstig.”