
'n Massiewe visvrekte by die strandmeer op Walvisbaai het honderde inwoners van die dorp na die see laat stroom. Emmerentia Shilongo (links) en Florentina Katiti gebruik ’n skottel en emmer om hul deel van die oes van die see te was en te sorteer. Van die vroue het tot bokant hul knieë in die strandmeerwater geloop om hul gasie vir die dag in te bring.
GOD se gawe vir die dag, was van die oewerkommentaar toe honderde mense gister op die wande van die Walvisbaaise strandmeer saamgedrom het om tonne vis te versamel wat met laagwater in vlak poele vleiwater gevrek het.
Die oes het hoofsaaklik uit sakke vol harders bestaan, maar teen die westelike wande van die meer is springharders van tussen 3 en 4 kg vir die pan ingebring. Kenners en leke het gister hul teorieë oor die massiewe visvrekte verstrek, maar ’n geloofwaardige weergawe was dat dit deur ’n suurstoftekort in die water veroorsaak is. Dié tekort is weer toegeskryf aan ’n moontlike uitbarsting van toksiese alge.
Ook aanvaarbaar was ’n verduideliking dat die toeslikking van die strandmeer tot die natuurramp gelei het. Ander verklarings was dat dit aan ’n springgety toegeskryf kon word wat die vis in die terugtrekking na laagwater in die vlak water vasgekeer het. Maar gister was dit dooigety.

Die groot springharders het op die westelike oewer van die strandmeer uitgekom. Van die springharders het die skaal op tussen 2 en 3 kg getrek. Op die foto staan John Cornelius, ’n diepseevisser, op wie ’n gelukskoot op land gewag het. Hy meen die see maak skoon sodat plek vir ’n nuwe geslag visse gevind kan word.
’n Visser met ’n grys baard en die kennis van ’n leeftyd op die oop see het gesê “die see het skoongemaak. Die ou vis moet uit sodat daar plek vir die nuwe aanwas kan kom.”
Omstanders wat aanhoudende swaeluitbarstings van die afgelope weke die skuld gegee het, kon nie verklaar hoekom daar nie ook ’n swaelreuk in die water was nie. ’n Sterk reuk was daar wel, maar dit was eerder van gistende slik teen die wande van die vleiland.
Volgens hengelgidse op Walvisbaai het die eerste vrektes reeds Dinsdag en Woensdag voorgekom, maar gister was dit die ergste. Die spitstyd vir die vergaarders van die see se offers aan die mense was tussen twaalfuur gistermiddag en 15:00 toe die water weer ná laagwater begin styg het.
Oor ’n afstand van ’n geskatte vyf kilometer op die oostelike wande van die meer weerskante van Lover’s Hill het honderde Walvisbaaiers in die vlak water hul spense vir baie weke gevul. Dit was waar hoofsaaklik harders uitgekom het.
Seemanne wat die toestande ken, het deur die meer na die westelike oewer gestap waar die groter springharders aangetref is. Die klein vissies het in die vlak poeletjies gelê, maar die groter springharders het bo-op die water gedryf.
Mnr. Jörg Walter van Super Sports op Walvisbaai het gesê die oes het uit tonne harders bestaan. Die gesogte springharders het ook uitgekom. In die opbrengs was ook enkele pelsers, klein tongvissies, enkele haaitjies, sand- en grondhaaie en piepklein steenbrassies.
Volgens mnr. Walter het soortgelyke toestande in 1990 geheers toe al die baai se kabeljoue gevrek het. Sedertdien is nie weer ’n kabeljou in die strandmeer aangetref nie. Fotomateriaal bestaan van sodanige ramptoestande wat die meer in 1908 getref het. Hy meen die huidige situasie is versnel deur die toeslikking van die strandmeer.
Een wetenskaplike berekening is dat die watertoevoer van die see na die strandmeer vandag maar sowat 15 persent is van wat dit in 1978 was.
Onder die stormlopers van gister was enkele hengelaars wat hul aasvrieskaste kom vul het vir groter vangste. Maar die grootste toeloop was deur mense van die woonbuurte. Hulle het te voet, op trapfietse, in taxi’s, viertrekvoertuie, bakkies en gewone motors gekom. Hul werktuie was hul hande en hul opgaarhouers het bestaan uit kartonhouers, sterk plastiek- en goiingsakke, siwwe vir bousand, emmers en selfs ’n kruiwa.
Pendelaars van die vragte was die taxi’s wat van die oesveld na die woonbuurt Kuisebmond en terug gery het. Van die vroue het die swaar sakke vis op hul koppe uit die vlak water gedra. Daar het hulle aan Republikein gesê die klein harders is panvissies. Van die harders gaan gedroog word en tuis gaan selfs van die vis aan bure verkoop word.