
So het die traliewerk en die wandelgang na die gewilde Tiger Reef op Swakopmund se suidstrand gelyk nadat die see die kuierplek die soveelste keer binne enkele maande gelooi het.
EEN van die gewildste kuierplekke langs die strande van Swakopmund het weer onder die humeurigheid van die see deurgeloop. Dié keer was dit die kombuis van Tiger Reef wat die knie voor die aanslag van die branders tydens springgety moes buig.
Hoë branders tydens hoogwater Sondag het vir die soveelste keer deur Tiger Reef gespoel met die vraghouer wat die kombuis huisves wat die kwaaiste deurgeloop het.
Volgens die eienaar van die perseel, mnr. Quinton Liebenberg, is die vraghouer onveilig en het hy geen ander keuse as om die kombuis tydelik te sluit totdat besluit word wat nou gedoen moet word nie.
“Gaan ons die kombuis net beveilig, of moet ons hom skuif? Paasnaweek lê voor die deur. Ons oorweeg ons opsies. Vanoggend is die see plat, maar hoogwater lê weer voor.”
Volgens mnr. Liebenberg is dit vir hom weens die gewildheid van die plek nie ’n oorweging om Tiger Reef permanent te sluit nie. Dit vat volgens hom net elke keer tyd en geld om weer die plek te herbou. Daar is wel langtermynplanne.
“As die see net sy hand wil wys…”
Die springgety met Sondag se volmaan het ook ’n hengelaar by Myl 17 noord van Swakopmund vasgekeer. Die visterman het ingegooi waar die see die afgelope maande ’n nuwe getypoeletjie gevorm het. Toe die branders op hul hoogste was, het die getypoel so volgestoot dat dit die hengelaar op ’n eiland omring deur water laat staan het. Die man moes op laagwater wag om weer by sy huis te kom.
Suid van Walvisbaai moes besoekers aan Sandvishawe ook met die stand van hoogwater rekening hou om op die roete deur te kom.
Gister, ’n dag ná die springgety, was die see so kalm of niks Sondag gebeur het nie.