24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.08.2010

Politici en rugby vat hande op Rehoboth

© Boet Matthews
Ons vir jou, rugby! Dit was die boodskap wat politici, rugbybeamptes van Rehoboth en Reho Falcon, die NRU-president en nasionale afrigter op Rehoboth oorgedra het.

POLITICI, beamptes en rugbyspelers het in ’n uitsonderlike gebaar die verhoog op Rehoboth gedeel toe leiers uit alle fronte hulde en dankbetuigings gebring het vir almal wat in die gemeenskap sorg dat twee van die dorp se uithalerspanne naweek na naweek in die MTC Premierliga kook.

Die byeenkoms wat deur meer as 100 mense bygewoon is, het meegebring dat leiers uit verskillende oorde die rugbyspelers as helde aan die gemeenskap voorgestel het met ’n wens dat straatkinders en minder gegoedes hul voorbeeld sal navolg en met deelname aan sport hulself uit ’n put van wanhoop red.

As hoofspreker het die streeksraadlid van Rehoboth- Wes en gewese rugbyadministrateur, mnr. Theo Diergaardt, ’n boodskap van hoop aan die teenwoordiges oorgedra met bepaalde verwysings na die belangrikheid van opbouende beriggewing in die plaaslike media.

Hy het gesê ongeag hoe neerdrukkend die voorbladberigte van die dag mag wees, “as ’n mens deur die sportblaaie van Republikein blaai, kry jy nuwe moed vir die toekoms van hierdie land. Sport is die groot gelykmaker en dit is inderdaad ’n riem onder die hart om te sien met watter puik prestasies ons half bankrot Namibiese rugbybestel vanjaar kan spog. As politikus is dit my oortuiging dat die tyd aangebreek het vir die ganse Rehoboth gemeenskap om hande te vat en te sorg dat ons sportspanne die hulpmiddels kry wat hulle daardie trappie hoër sal voer.”

Mnr. Diergaardt het benadruk dat die fondamente van rugby op skoolvlak gelê moet word. As voorbeeld het hy die opgang van Dr. Lemmer as finalis in die Metropolitan Raadsbeker en die kwalifikasie van Reho Falcon en Rehoboth Rugbyklub vir die halfeindronde as voorbeelde genoem.

“Op sokkergebied het ons in 2004/2005 juis die teleurstelling gesmaak van gebrekkige geriewe toe ons spanne Friends en Mighty Birds hul tuiswedstryde op Mariental moes gaan speel.”

Die president van die Namibië Rugby-unie, mnr. Buks Bock, het gesê dit is nie die NRU se beleid om by elke geleentheid oor sy geldsake te kla nie.

“Die feit van die saak is egter dat die NRU te veel gate moet toestop met die sowat N$1,3 miljoen per jaar deur die Internasionale Rugbyraad. Net meer as N$1 miljoen daarvan gaan aan salarisse, administrasie en oorhoofse koste. Byna ’n kwartmiljoen word bestee aan onderhoud en die aankoop van gimnasiumtoerusting en toelae aan die spelers. Namibiese rugby beskik net oor een borg en dit is MTC wat getrou die manne help dra deur die Premierliga, die Vodacombekerreeks en vir ontwikkeling.”

Hy het deelname aan die Vodacombekerreeks in Suid-Afrika en die pragprestasie van die nasionale span in Roemenië as hoogtepunte van die jaar uitgelig en beklemtoon dat sulke deelname die gaping tussen amateur- en beroepstatus geweldig help vernou het. Dit bring mee dat ’n afrigter groter keuses het wanneer spanne gekies moet word om die landsvlag met trots in internasionale kompetisies te dra.”

Die nasionale afrigter, mnr. Johan Diergaardt, het gesê hy was seker nie oral ’n gewilde man toe hy die leisels oorgevat het nie.

“Ek het kanse gewaag met spankeuses en spelpatrone, en ons het die vrugte daarvan gepluk. Dit maak my nie ’n wonderlike afrigter nie, maar dit wys watter wonderlike talent ons land het. Opwindende tye wag op ons nasionale span wat in Desember gaan toer, die Vodacombekerreeks vroeg volgende jaar in Suid-Afrika, moontlik nog een of twee internasionale toere en dan natuurlik die grote: die Wêreldbeker in Nieu-Seeland.

“As ons verby die struikelblokke van geldtekorte kan kom, is daar geen rede hoekom Namibië in die komende maande en nuwe jaar met groot eer uit die internasionale arena kan tree nie. As dit nie genoeg motivering vir enige speler is nie, moet hy dringend selfondersoek instel.”

Hy het sy strategie verduidelik en gesê hy bou sy span op die pilare van aanval, verdediging, fiksheid en dissipline.

“Die keuse is ons kan weer die komende internasionale kragmetings gaan meeding om ons beste te gee en te wen, of ons kan maar net weer vertrek as deelnemers.”

Teen hierdie agtergrond het hy spelers gemaan om stiptelik oefenkampe by te woon.

“Dit is die plek waar elke speler ’n gelyke kans kry om ’n afrigter te beïndruk.”

Die burgemeester van Rehoboth, mnr. Dawid Richter, het die hoop uitgespreek dat die aand se byeenkoms nie ongesiens by die Regering verbygaan nie en dat kennis op die hoogste vlak geneem word van die rasse skrede waarmee rugby woeker.

Hy het ook die hoop uitgespreek dat die private sektor sy volle gewig sal ingooi en ook op klubvlak sal help toesien dat die twee bulspanne van Rehoboth jaarliks in die Premierliga sal kan kragte meet.