2.07.2009 Perdrynaweek lok sewe klubs
DIE Namibian Derby gaan Saterdagmiddag die hoogtepunt wees van die jaarlikse groot ry- en springtoernooi van die Reiterverein Omaruru.
’n Geskatte tagtig ruiters met hul perde sal hulle waarskynlik vir die byeenkoms aanmeld wat môre begin en tot Sondag sal voortduur.
Liefhebbers van perdesport gaan dié item deur Neo Paints met groot belangstelling volg.
Michelle Künzle van Swakopmund gaan daar wees in ’n poging om haar opspraakwekkende skoon ronde van 2007 te herhaal.
Verlede jaar is sy deur ’n ongeluk tydens die byeenkoms uitgeskakel, maar dié keer keer sy terug as wêreldkampioen ná haar sege in Chili. ’n Soortgelyke toets vir juniors sal ’n voorspel tot die Namibian Derby wees. Dit word deur Ritter’s Toyota Hino Okahandja geborg, ondersteuning waarvan twee blinknuwe motors in die arena as vertoonstukke sal getuig.
Vir die jong klomp sal die Scherer-gedenktrofee in die spel wees. Rudolph Scherer was ’n stigterslid van die Reiterverein Omaruru. ’n Kleindogter van Rudolph Scherer, Ronja Hälbich-Spangenberg, sal die trofee-oorhandiging waarneem. Ruiters van Windhoek, Okahandja, Swakopmund, Walvisbaai, Otjiwarongo, Tsumeb en Omaruru het hulle met hul perde vir die byeenkoms ingeskryf.
Tien ruiters van Pretoria sou met hul perde aan die Omaruru-byeenkoms deelneem, maar het dit nie gemaak nie. Hulle het wel laat weet dat hulle in 2010 beslis daar gaan wees.
Tydens die ry- en springnommers sal ’n internasionale beoordelaar, Marlies Rauscher van Duitsland, optree. In Leer as haar tuiste is sy ook die eie-nares van ’n ryskool, Eichenhof. As beoordelaar het sy ook al in Italië en Amerika opgetree. Dit is haar tweede besoek aan Afrika en eerste aan Namibië.
Een van Marlies se leerlingruiters, Insa Wiesner, het verlede jaar op ’n geleende perd van Franmari Lang aan die Omaruru-toernooi deelgeneem. Marlies se vliegtuigkaartjie is deur Thomas Wierner van Kalkfeld en sy gesin geborg.
Die Wiesners is jarelange lede van die Reiterverein Omaruru. Sondag se hoogtepunt sal ’n springnommer oor ses hindernisse net ná die middaguur wees.
Die wenners van die kinder-, jong ruiter- en volwasse kategorieë sal tydens die prysuitdeling aangekondig word. Twee nuwe trofeë, die Helmut Metzger-trofee vir die oudste ruiters en die Sattelkammer-trofee vir die jongste ruiters, sal ook oorhandig word.
Die president van die Namibiese Perdefederasie, mnr. Riaan van Rooyen, sal aan die einde van die toernooi ’n kort rede voer.
|