
Daniel Ekedo (links) van Ekwatoriaal-Guinee en Chisamba Lungu van Zambië in aksie tydens die twee lande se kragmeting wat Sondag plaasgevind het.
DIE talle verrassings by vanjaar se Afrika Nasiebekertoernooi dien as ’n wekroep vir die vasteland se sogenaamde grotes wat nie die 2012-skouspel in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee kon haal nie.
Die afgelope week of wat het opnuut vir opskuddings gesorg en nog ’n paar grotes moes selfs voor die kwarteindronde hul tasse pak.
Die spelers van Zambië en Soedan skop Saterdagaand die bal aan die rol vir die eerste van vier spannende kwarteindstryde wat die naweek wag.
Daarna is dit een van die gunstelinge, Ivoorkus, wat teen die gasheerspan Ekwatoriaal-Guinee opdraf.
Hier word ’n riller verwag. Ivoorkus met sy ervare, sterbelaaide kombinasie is onder groot druk om vir die eerste keer die Afrika Nasiebeker omhoog te hou, terwyl sy gevaarlike opponent vir die heel eerste keer aan die toernooi deelneem en boonop die tonge laat klap met ’n plek in die kwarteindronde.
Daardie wenbonus van een miljoen Amerikaanse dollar om die openingswedstryd te wen, het inderdaad ’n blywende effek gehad.
Nie sleg vir ’n landjie van sowat 750 000 mense en wat in plekke nommer 41 en 151 op CAF en FIFA se ranglyste verskyn nie.
Ivoorkus is die topgekeurde span in Afrika en 18de op Fifa se wêreldranglys.
Ekwatoriaal-Guinee het niks om te verloor nie. Vir die span is dit dus ’n groot aansporing om selfs verder te vorder. Dit sal ’n reuseskok wees as hulle die sterbelaaide Ivoorkus op hul neuse laat kyk.
Ewe skielik is daar belangstelling en almal wil weet wat die resep vir Ekwatoriaal-Guinee se opgang is.
Die ander gasheerspan, Gaboen, laat ook nie gras onder sy voete groei nie. Nege punte ná drie wedstryde en die boonste plek in Groep C moet kommer wek by hul volgende opponent (Mali of Guinee) wat gisteraand nog in Groep D in aksie was.
Die laaste hoop van Suidelike Afrika, Zambië, kom teen Soedan te staan. Zambië, met net een speler wat aan ’n topklub in Europa verbonde is, en Soedan, wie se ganse span vanuit die land se plaaslike liga versamel is, is twee van die lande wat die hoër gerekende sokkernasies laat kopkrap.
In die kamp van Chipolopolo is die vleuel Clifford Mulenga gister weens wangedrag huis toe gestuur.
Drie spelers wat glo saam met hom die span se aandklokreël verbreek het, het verskoning gevra, maar Mulenga het glo geweier. Hy het nog net in een wedstryd as plaasvervanger opgedraf.
Marokko het Dinsdagaand met 1-0 gesorg dat die debutant Niger steeds van sy eerste oorwinning by ’n Afrika Nasiebekerreeks droom. Vir Marokko was dit egter te min en te laat – hul enigste oorwinning in die 2012-toernooi was tevergeefs.
Vanjaar se toernooi is inderdaad een wat onthou sal word vir vele verrassings en die kleiner lande wat hul stempel op die vasteland afdruk.