
Rabah Saadane, afrigter wat Algerië skaars twee maande gelede in die Wêreldbeker-sokkertoernooi gelei het, het Saterdag sy bedanking ingedien nadat die Noord-Afrikane in ’n kwalifiserende wedstryd vir 2012 se Afrika Nasiebekertoernooi met 1–1 teen Tanzanië gelykop gespeel het. Onder Sadaane (64) se afrigterskap het Algerië vroeër vanjaar ook die halfeindstryd van die Afrika Nasiebeker gehaal.
WILKO Risser se troosdoel in die laaste oomblikke het Saterdag die eindtelling van die Brave Warriors se wegwedstryd teen Gambië op 3–1 in die tuisspan se guns laat vassteek.
Die neerlaag in hul openingswedstryd laat die Namibiese nasionale sokkerspan met ’n beduidende agterstand om in te haal indien hy vanuit Groep F wil vorder vir deelname aan die 2012 Afrika Nasiebekertoernooi in Gaboen en Ekwatoriale Guinee.
Namibië het ’n duur prys betaal vir sy gebrekkige voorbereiding wat die wedstryd voorafgegaan het. Die beserings en uittredes van prominente spelers soos Rudolf Bester, George Hummel en Paulus Shipanga was swaar terugslae, maar uiteindelik was afrigter Tom Saintfiet tereg bekommerd oor die wedstrydfiksheid van sy spelers vir wie die Premierliga vier maande tevore geëindig het.
Nog ’n doodsteek was die span se reisreëlings wat Saintfiet met skaars een oefensessie met sy volledige groep spelers gelaat het. Daarenteen het Gambië byna 20 beroepspelers tot sy beskikking gehad.
’n Harde donderstorm kort voor die afskoptyd het speeltoestande bemoeilik, maar die tuisspan, aangemoedig deur ’n groot, entoesiastiese skare van meer as 20 000, het nie gras onder sy voete laat groei nie en was ná skaars ’n halfuur met 3–0 voor danksy doele deur Sainey Nyassi, Momodou Ceesay en Ousman Jallow.
Hoewel Namibië later ook aanvalskanse begin skep en taktiese veranderinge aangebring het, het Gambië se verdedigers die besoekers in bedwang gehou totdat Wilko Risser teen die einde met ’n netjiese kopstoot vanaf ’n hoekskop geslaag het.
Gambië berei hom nou voor vir sy wegwedstryd volgende maand teen Burkina Faso. Net drie spanne het in Groep F oorgebly nadat Mauritanië hom onlangs onttrek het.