
Die Brave Warriors sal gewis hoop dat aanvallende spelers soos Tangeni Shipahu (foto) die naweek op hul stukke is ná die span se verlies van die beseerde Rudolf Bester. Hier is Shipahu in aksie tydens Oktober verlede jaar se 2-1 oorwinning teen Suid-Afrika se ontwikkelingspan in Windhoek, toe hy ’n doel behaal het.
DIE wedsyfers is swaar gelaai teen die Brave Warriors wat vandag na Gambië vertrek waar hul aanslag op kwalifikasie vir die 2012 Afrika Nasiebekertoernooi komende Saterdag met ’n kragmeting in die hoofstad Banjul begin. Afrigter Tom Saintfiet moes in die laaste dae die onttrekking van die ervare verdediger George Hummel en die middelveldspelers Paulus Shipanga en Razundara Tjikuzu verwerk.
Nog ’n swaar slag is dat die aanvallende middelveldspeler Rudolf Bester die naweek in ’n wedstryd vir sy Suid-Afrikaanse klubspan Maritzburg United beseer is en hom ook van die toer moes onttrek. Bester het onder meer vroeër vanjaar die eerste doel in die gelykopwedstryd teen Bafana Bafana in Durban behaal en waarskynlik Namibië se mees gereelde doelskieter die afgelope twee jaar.
Sy plek word deur Heini Isaaks geneem. Saintfiet was gister ewe ontsteld toe hy verneem dat sy span eers laat Donderdagaand hul eindbestemming sal bereik en dat hy dus net een oefening met sy volledige groep sal hê.
Dit terwyl die vyf spelers van buitelandse klubs (die broers Oliver en Wilko Risser, Collin Benjamin, Henrico Botes en Tangeni Shipahu) eers in Gambië by hul spanmaats sal aansluit.
“Dit (die laat aankoms) is onaanvaarbaar, onprofessioneel en potensieel katastrofies. Dit verminder ons kanse om ’n positiewe uitslag te behaal met ’n goeie 20 persent, benewens die feit dat van ons belangrikste spelers nie saamkom nie,” het die afrigter gister mismoedig gesê.
Saintfiet is juis bekommerd oor sy spelers se wedstrydskerpheid omdat die meeste spelers sedert die einde van die vorige MTC Premierligaseisoen meer as vier maande gelede nie veel in aksie was nie. Hoewel sy oefengroep verlede week ’n vriendskaplike wedstryd teen SKW met 2-0 gewen het, is die afrigter besorg of van sy manne die volle 90 minute kan uithou.
Hummel en Shipanga het beide hul uittrede uit internasionale sokker aangekondig, terwyl Tjikuzu versoek het om vir hierdie wedstryd oor die hoof gesien te word terwyl hy homself by sy nuwe klub Kasimpasa Spor Kulubu van Turkye probeer vestig. Tjikuzu het egter aangedui dat hy wel vir die latere wedstryde beskikbaar is en graag oorweeg wil word.
Gambië is tans 103de op die wêreldranglys en Namibië 115de, hoewel die Wes-Afrikane nog nie tevore vir die Afrika Nasiebekertoernooi kon kwalifiseer nie en Namibië dit in 1998 (Burkina Faso) en 2008 (Ghana) reggekry het.
Die twee spanne het nog nie tevore op die sokkerveld ontmoet nie en dit is ook die Namibiërs se eerste besoek aan Gambië, die kleinste Afrika-land in oppervlak en wat benewens die Atlantiese Oseaan geheel en al deur Senegal omring word. Die land se bevolking is sowat 1,7 miljoen.
Verlede week se onttrekking van Mauritanië, wat die vierde span in Groep F saam met Namibië, Burkina Faso en Gambië sou wees, maak elke uitslag tussen die oorblywende spanne nou selfs meer deurslaggewend. Saintfiet het aan die webblad van die Konfederasie van Afrikasokker (CAF) gesê dit is hartseer nuus dat Mauritanië onttrek het, maar hy is terselfdertyd deeglik bewus van die hoër verwagtinge wat vir die naweek se wedstryde gekoester word.
“Met net drie spanne oor in Groep F, word die wedloop vir kwalifikasie vir die eindtoernooi in Gaboen en Ekwatoriale Guinee selfs strawwer – deels omdat ons nou vir ’n langer periode tussen ons uitdunwedstryde onaktief gaan wees.
“Daar is dus beslis meer druk vir ons openingswedstryd teen Gambië omdat ons dalk vir die volgende ses maande nie weer ’n wedstryd het nie,” het Saintfiet gesê.
Die spelersgroep na Gambië is: Doelwagters: Virgil Vries, Athiel Mbaha. Verdedigers: Hartman Toromba, Richard Gariseb, Steven Goagab, Oliver Risser, Jamunuvandu Ngatjizeko, Gottlieb Nakuta. Middelveldspelers: Ninja Karongee, Collin Benjamin, Quinton Jacobs, Tangeni Shipahu, Sydney Plaatjies, Edward Asino, Alfred Ndyenge. Voorspelers: Henrico Botes, Wilko Risser, Heini Isaaks.