24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

23.01.2012

Onder 17-meisies gelykop teen SA

© Francois Poolman
Suid-Afrika se doelwagter Katlego Moletsane (regs) en die Namibiese voorspeler Juliana Blou tref mekaar nadat hulle in die lug om beheer van die bal meegeding het.

DIE onder 17 nasionale vrouesokkerspan het Saterdag in Windhoek met 1-1 gelykop teen Suid-Afrika in hul eerste ontmoeting in die eerste kwalifiserende rondte van die Fifa o.17 vroue Wêreldbeker gespeel.

Die jong Brave Gladiators is een van 12 Afrika-spanne insluitend Kenia, Botswana, Kameroen, Gambië, Ghana, Guinee, Nigerië, Sierra Leone, Suid-Afrika, Tunisië en Zambië wat afgelope naweek asook komende naweek tuis en weg uitspeel om ses plekke in die tweede rondte te bepaal.

Die tweede rondte sal van 9 tot 25 Maart plaasvind, met drie van die ses spanne wat vir die Wêreldbeker in Azerbaidjan (22 September tot 13 Oktober) sal kwalifiseer.
© Francois Poolman
Die Namibiërs het in die Sam Nujoma-stadion net sowat 45 persent balbesit gehad en was vir 60 persent van die wedstryd in hul eie helfte en op die verdediging.

Die blitsige Suid-Afrikaanse voorspelers Charmelle Wiltshire, Thembi Kgatlana en Caitlin Fryer se vinnige teenaanvalle het die plaaslike verdedigers in nat toestande op hul tone gehou. Suid- Afrika se middelveldspeler Kelso Peskin het uitstekend op die linkervleuel aangeval.

Die jong Gladiators het in die laaste tien minute van die eerste helfte meer gestruktureerde spel gelewer. Die 14-jarige Abrille Beukes het die eerste doel twee minute voor rustyd met ’n grondlangse skop regs verby die SA doelwagter Katlego Moletsane aangeteken.

Die buurland se span het in die tweede helfte harde en vinnige spel gelewer om die gelykopmaker te behaal. Suid-Afrika het 17 minute voor die eindfluitjie ’n vryskop 15 meter van die Namibiese doelhok gekry. Caren van Reyneveldt het die vryskop vir haar span geneem en ongelukkig vir doelwagter Melanie Hikuam het die bal ongemaklik voor haar gewip en is die bal deur haar hande om die telling gelykop te maak.

Beide spanne het in die laaste 15 minute alles in die stryd gewerp op soek na ’n wendoel. Hikuam het haar naam ietwat herstel deur verskeie doelkanse te keer.

Die Namibiese voorspeler Juliana Blou het ’n gulde geleentheid vyf minute voor die eindfluitjie gehad toe sy met Moletsane in die lug voor die SA doelhok vir die bal meegeding het. Ongelukkig het die twee spelers kontak gemaak en die skeidsregter het ’n vryskop aan Suid-Afrika toegeken.

Die Namibiërs sal oor twee Saterdae die herontmoeting in Suid- Afrika gaan speel en sal moet wen of met 2-2 gelykop speel om tot die volgende rondte te vorder.