24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.08.2010

Om te skink of nie te skink, dit is die vraag

Vrypostig met Boet Matthews

© Republikein
VREEMD hoe sommige sportsoorte met sekere ander aktiwiteite geassosieer en dienooreenkomstig behandel word.

Oor veerpyltjies en Klippies en Coke…

Vat nou maar die voorbeeld van veerpyltjies. Ondanks dekades van nasionale en internasionale deelname, en heelwat prestasies, is die sport van vlieënde pyle steeds amper ’n vloekwoord in sommige kringe. Ongelooflik, maar waar: die persepsie bestaan steeds dat as jy ’n veerpylspeler is, gooi jy ook kort-kort ’n Klippies en Coke. Een veertjie vir jou, en een Klippie vir my? Met eish, ja. Met eish.

Iesh!

Vrypostig is hierdie week op die vooraand van die nasionale span se vertrek na Maseru vir deelname aan die Sone Ses-kampioenskap weer hieraan herinner. Dis toe dit bekend word dat die span amper nie vlerke gehad het om die lang tog aan te pak nie. Genadiglik het die Ministerie van Sport tot hul redding gekom en ’n bussie beskikbaar gestel. Vrypostig kon die vasberadenheid op die spelers se gesigte sien om hul kritici ’n ding of twee te wys!

Vir die mense wat steeds half neerhalend na veerpyltjies verwys, kan Vrypostig vandag net sê: die mense oefen net so hard soos enige ander sportspan. Veerpyltjies is ’n uiters vernuftige spel wat groot konsentrasie en ure se oefening kos. Boonop vertrek die groep met net soveel passie, geesdrif en trots na Maseru om op die hoogste vlak te gaan deelneem. Hulle loop oor van landstrots en gaan hul veerpyltjies onder die Namibiese landsvlag met groot verwagtinge laat vlieg.

Nee, wat. Kom ons los die kleinlikhede en herinner onsself daaraan dat sekere sportsoorte gereeld die lang pad met bultende geldsakke vat en leëhande terugkeer. Dalk oor te veel Klippies en Coke?

Vol blikke raas nie…

As daar nou ’n nasionale span is wat die Klippies en Coke mag nader trek, is dit ons rolbalspelers wat so pas ná ’n indrukwekkende vertoning uit Harare teruggekom het. Hul tasse had so ietsie van alles: goud, silwer en brons. G’n leë Klippies en Coke bottels nie. Koffers vol trofeë sonder om te raas!

Dit bring ’n mens by die punt waar jy weer moet vra hoe werk dit dat hierdie sogenaamde “kleiner” sportsoorte altyd geldelik aan die kortste ent trek.

Die geval van rugby is nog vreemder. Die sportsoort word nie as “kleiner” gereken nie, maar word vreemd genoeg soos ’n stiefkind behandel. Hulle ryg titels op internasionale vlak in, maar het beswaarlik sakgeld. Die veerpyltjiespan moes so amper ryloop tot in Maseru en die nasionale rolbalspan moet hul eie geld gebruik as hulle vir die komende Statebondspele wil aanmeld. Iesh! Gooi vir Vrypostig ook ’n dubbel, asseblief. Met eish, ja!

Van dubbels gepraat. Van al die wandade van alkoholmisbruik, is die vergrype van ouers en ondersteuners by skolesportbyeenkomste seker die heel afskuwelikste.

Vrypostig het verlede naweek by die nasionale skolerugby-eindstryde dinge gesien en gehoor wat hy nie hier kan herhaal nie. Terwyl skoolkinders hul bes lewer om hul ouers en ondersteuners op die rugbyveld te beïndruk, was daar wragtiewaar mense wie se taalgebruik ooglopend deur tiermelk aangehelp is. Skeltaal en drankmisbruik is nêrens langs sportvelde aanvaarbaar nie. Dis ’n euwel en verdien om uitgeroei te word. Daar is mos hoeka so ’n wet teen dronk op straat. Wat van dronk op die pawiljoen?

’n Verkiesing op ’n nugter noot…

Op ’n meer nugter noot: Vrypostig volg met groot belangstelling hoe die kandidate vir die top-pos in die Namibiese Sokkervereniging (NSV) hul verkiesingstryde aan die kook hou.

Die potte word duidelik op verskillende maniere gestook en dit gaan nogal interessant wees om te sien hoe lyk die bredies as hulle gaar is. ’n Mens moet waardering hê vir die wyse waarop dr. Korbinian Amutenya hom na deeglike oordenking aan die wedloop onttrek het. Dit is sy besluit, maar nogtans jammer, want Vrypostig ken die “dokta” en weet hy is ’n man van inbors wat die belange van sokker op die hart dra. Niemand kan sê Dr. No is ’n “baddie” nie.

Die presidentspos kom met ’n vuurwarm sitplek en ’n mens kan net hoop dat die uiteindelike wenner met pens en pootjies gaan inklim, want daar wag sommer baie werk. Skoonmaakwerk ook. In hierdie stadium van die stryd lyk dit mos al soos ’n geval van van twee uiterstes. Mnr. John Muinjo benader die verkiesing met groot erns en het reeds in sy vierjaartermyn gewys hy kan die sokkerskip op koers hou.

Sy uitdager, mnr. Ranga Haikali, is ’n invloedryke man wat groot planne ter verandering het. En geoordeel aan sy pronkerige verkiesingsmanifes in volkleur, ook nie ’n man sonder ’n plan nie. Die vraag bly natuurlik wie van die twee die wa deur die drif kan sleep.

Want laat ons eerlik wees: die sokkerwa kan doen met ’n touleier wat die sweep kan laat klap!