
Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) het ’n brosjure geloods waarin profiele van Namibië se Olimpiese span verskyn. Die uitsoekgroepie sal die land in atletiek, boks, fietsry en skiet by die Beijing Spele volgende maand verteenwoordig. In die brosjure is ook boodskappe van eerw. Willem Konjore, Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, en mnr. Stanley Simataa, voorsitter van die Namibiese Sportkommisie. Hoogtepunte van die vorige Olimpiese Speles en inligting oor die twee jeugdiges wat na die Olimpiese Jeugkamp in Beijing gaan, is ook in. Net 2 000 van die brosjures is gedruk wat oor die hele land by verskeie streekskantore, dorpsrade en sportkantore versprei sal word. Van die brosjures sal ook in Beijing versprei word as ’n vertoonstuk van Namibië. Die brosjure sou nie sonder die hulp van Bank Windhoek, wat baie geld in atletiek bestee, asook Namdeb, Eerste Nasionale Bank (ENB), Air Namibia, MTC, Auas Motors, Trip Travel en NovaNam moontlik gewees het nie. Hier is mnr. Rusten Mogane, hoofadministrateur van die Sportkommissie, en me. Agnes Tjongarero, president van die NNOK.