Oefenkamp regte begin vir 2013

Alles is gereed vir die 20ste Quinton-Steele Botes atletiekkursus en oefenkamp wat vanaf komende Maandag in Windhoek se Onafhanklikheidstadion gehou word.

As 'n nuwigheid sal die weeklange oefenkamp op die Vrydag met 'n kompeterende byeenkoms vanaf 08:00 tot 12:00 afgesluit word. Dit sal aan atlete die kans gee om hul nuut verworwe tegnieke en benaderings tydens 'n kompetisie op die proef te stel en bied ook aan afrigters die geleentheid om vordering te bepaal.

Sommige van Suid-Afrika se voorste afrigters sal weer betrokke wees, insluitend Steve Rautenbach (hekkies), Hugo Badenhorst (hoogspring) en Marna da Silva (gewigstoot en diskusgooi). Die Olimpiese spiesgooier en Afrika-kampioen, Sunette Viljoen, sal egter nie weer betrokke wees soos aanvanklik aangekondig is nie.

Hierbenewens sal verskeie Namibiese afrigters wat IAAF-kwalifikasies van minstens vlak 1, 2 of 3 verwerf het, ook tot die oefenkamp bydra.

Botes sê soos vorige jare sal die aantal inskrywings tot sowat 300 atlete beperk word sodat die individuele aandag nie vanweë te groot getalle verlore gaan nie.

Die medeborge van die oefenkamp is Wimpy, Starlite, Coca-Cola, Avis, Bank Windhoek, Engen Petroleum, Tyres 2000, Hyundai, Marathon Sugar en adidas. Die meeste van dié maatskappye is reeds verskeie jare betrokke.

Die koste van deelname aan die oefenkamp beloop N$190 per atleet en N$230 vir hulpafrigters. Hiervan sal N$20 van elke inskrywing aan die Quinton-Steele Botes Kankerfonds oorhandig word wat die afgelope jare reeds tot die mediese uitgawes van dosyne kankerpasiënte bygedra het.

Registrasie word komende Maandag vanaf 13:00 by die Onafhanklikheidstadion gedoen, voor die amptelike opening om 15:00.

Die oefenkamp is oop vir alle junior primêre, junior, senior en veteraanatlete. Items soos naellope, hekkies, middel- en langafstande, 400 m, spiesgooi, diskusgooi, gewigstoot, verspring, hoogspring en driesprong sal aangebied word.

Botes verduidelik dat die junior primêre groep met item-gerigte speletjies op 'n informele wyse aan die vaardighede en korrekte styl bekendgestel word. ?Die ouderdomsgroepe vir atlete van ses, sewe, agt en nege jaar oud sal elk onder leiding van sy eie hoofafrigter besig wees.?

Laerskoolatlete in die ouderdomsgroep onder 11, 12 en 13 sal 'n keuse gebied word om in 'n kategorie van drie verwante items in te skryf. ?Ons wil nie te vroeë spesialisering aanwakker wat 'n atleet se liggaam op 'n te jong ouderdom eensydig laat ontwikkel nie. Die kategorie kan wel deur die atleet se sterkste item bepaal word en bestaan uit die volgende: gooinommers; naellope plus hekkies plus verspring; naellope plus verspring plus hoogspring; middelafstande,? sê Botes.

Hoërskool- en senior atlete sal net in een item/dissipline mag inskryf waar op die spesifieke video-ontledings, programopstelling en besprekings oor gimnasium- en gewigoefening gefokus sal word.

?Assistentafrigters (meestal onderwysers of ouers of afrigters op klubvlak) sal in die skadu van elke betrokke hoofafrigter beweeg en sal opgelei word om 'n oefensessie te hanteer en vlot te laat verloop. Een skool wil bv. tien onderwysers inskryf wat sodoende ook bekwaam sal wees om as beamptes by hul huiskompetisie op te tree,? sê Botes.

Ter viering van die 20ste bestaansjaar van die oefenkamp word 'n dinee Woensdag vir rolspelers gehou.
Belangrike datumsAtlete van alle ouderdomme kan kennis neem van die volgende datums van komende groot byeenkomste:

19 en 20 April: Coca-Cola en Marathon Sugar borg die nasionale kampioenskap vir o.13-, 15-, 17- en 19-atlete in Windhoek.

1 tot 5 Mei: Cossasa Jeugkampioenskap (o.17) in Zimbabwe.

10 tot 14 Julie: Junior wêreldkampioenskap (o.19) in Donetsk, Oekraïne.

10 tot 18 Augustus: senior IAAF wêreldkampioenskap in Moskou.

16 tot 27 Oktober: wêreldkampioenskap vir meestersatlete in Porto Alegre, Brasilië.

('n Afrika-kampioenskap vir o.19-atlete vind ook vanjaar plaas, maar die plek en datum is nog nie bekend gemaak nie).

Kategorie: