
By die onlangse mediabyeenkoms by die NRU-kantoor in Windhoek staan van links mnre. Jerry Elago, Buks Bock, Isak Hamata (MTC), John Williams en Sakkie Mouton.
NAMIBIESE rugbytrots was gister in ’n belowende sakkie toegeknoop na ’n saamtrek van al die besluitnemers van die skitterspan.
Die nasionale keurders het ’n groep van 50 spelers by die groot indaba betrek om saam met nasionale afrigter John Williams die beste moontlike insette te lewer.
Die groot doelwit van die span is nou voorbereiding en wedstrydfiksheid in die komende maande voordat Namibië in November die laaste struikelblok (Tunisië tuis en weg) aanpak om vir 2011 se Wêreldbeker in Nieu-Seeland te kwalifiseer.
Die president van die Namibië Rugbyunie (NRU), mnr. Buks Bock, het gesê Williams het ’n goed deurdagte voorlegging aan die bestuurspan gemaak waarop die nasionale groep sy toekomsdrome vestig met die hoop op gereelde wedstryde.
Mnr. Bock sê die span het hom aangenaam verras en hy en Williams is uiters tevrede met die vertonings teen die Argentynse Jaguars en die Ivoorkus. Namibië moes in Abidjan vasbyt om met 13-elk teen die Olifante gelykop te speel, maar afgelope Saterdag in Windhoek was dit ’n gans ander storie. Toe het Namibië die Wes-Afrikane met 54-14 afgeslag.
Namibië moet nou dringend sy toekomspad ooptrap want aanstaande jaar is hulle ook in die taai Vodacombeker-reeks van Suid-Afrika.
Dié reeks is ’n uiters waardevolle platform vir die span se voorbereiding vir die Wêreldbeker en die aanloop na groter dinge. Namibië se onmiddellike toekomsdrome lyk belowend. Klop hulle Tunisië in die twee wedstryde, dan pak die manne hul tasse vir Namibië se vierde deelname aan die wêreld se grootste vierjaarlikse rugbyskouspel.
Bock het ook gesê: “Ons wil ons plek behou as die tweedebeste rugbyland op die vasteland ná Suid-Afrika.”
Die bekende sportadministrateur Sakkie Mouton is pas aangestel as die NRU se skakelbeampte om nog meer erns aan plaaslike rugby se opmars te gee.
Mouton se ywer het reeds Saterdag gewys toe hy sy seepgladde nuwe kaartjieverkoopstelsel geïmplementeer het. Dit het groot lof van toeskouers gekry en Mouton sê daar is nog heelwat skaafwerk wat Namibiese rugby ’n juweel kan maak.
So het Jerry Elago van die NRU ook gesorg vir ’n stukkie geskiedenis toe hy die eerste mediasentrum beskikbaar gestel het by Saterdag se toets teen Ivoorkus.
Die goeie standaard wat op die speelveld gehandhaaf word, is grootliks te danke aan die verbetering op administratiewe vlak en positiewe gesindheid in die NRU-kantoor.