Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kontak Ons

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

2.07.2009

Nog ’n uitklopsege vir Sackey

© Boet Matthews
Die weltergewigbokser Sackey Shikukutu.
KONKELWERK op die laaste oomblik kon nie Namibië se junior weltergewigbokser Sackey Shikukutu onkant betrap nie. Hy het Saterdagaand ploffende vuishoue geplant om die erkende Sloca Dietwe van Botswana planke toe te stuur.

Volgens plaaslike bokskenners het Dietwe al ’n paar groot name in Namibiese bokskringe sterre laat sien.

Sackey was veronderstel om teen Suid-Afrika se Duncan Sibusiso te boks, maar soos dit al die gewoonte geword het, het die teenstander op die laaste nippertjie kop uitgetrek.

Die organiseerders het toe die vernuftige Sloca van Botswana wat deesdae in Suid-Afrika woon, deur die toue gedruk in die hoop dat hy Sackey se trotse rekord ’n duik sal gee.

Maar helaas, die superfikse Namibiër het sy onoorwonne rekord in die beroepskryt gestand gedoen en die bokser uit Botswana na 2 minute 46 sekondes in die sesde en laaste ronde disnis gemoker.

Veertien sekondes was al wat Sackey oorgehad het om die uitklophou te plant. Hy het met sy terugkeer uit Johannesburg aan Republikein gesê. “Dit was taai, maar ook wondersoet toe ek my hande vir die agtste keer in agt beroepsgevegte in blydskap in die lug kon gooi. Die man uit Botswana wat deesdae ’n Suid-Afrikaanse held is, het my tot die uiterste beproef. Ek het wel later in die geveg die gevoel gekry dat ek hom planke toe kon stuur as ek die regte kombinasie gevind het. Dit het toe ook gebeur en die man se knieë het geknak.

“Dit was maar die tweede keer dat Sloca Dietwe ’n nederlaag in die beroepskryt proe.”

Sackey sal nou voorberei vir sy volgende geveg wat einde Julie mag wees wanneer die heel eerste wêreldtitelgeveg hopelik in Namibië gehou word.

Talle boksliefhebbers hou duim vas dat Paulus “The Hitman” Moses op 25 Julie deur die toue gaan klim voor sy tuisskare om vir die eerste keer sy Wêreldboksvereniging (WBA) liggewigtitel te verdedig.

Sommige sê prontuit dat The Hitman ook soos Harry Simon noodgedwonge sy potensiaal in die buiteland sal moet uitstal omdat plaaslike geldbronne hopeloos te kort skiet om die miljoene dollar in te hark vir ’n wêreldtitelgeveg in ’n glansaand met ’n paar behoorlike voorgevegte.