3.09.2010 Netbalspan reg vir nuwe hoofstuk in Afrika-toernooi
 Sommige van die Namibiese netbalspelers wat vandag na Suid-Afrika vertrek, in die agterste ry van links Jatjinda Kambatuka, Yvonne Kotjipati, Wency Katjatako, Eveline Sikoka, Augusta Sethi, Menethe Muvangua en Anna Kasper. Voor sit mee. Amanda de Jager (ANNA-tesourier), Lydia Kandetu (ANNA-president) en Vivienne Katjiuongua.
DIE verandering wat die nuwe nasionale afrigter, mnr. Francois Nel, die afgelope maande teweeg gebring het, is een van die redes vir optimisme wanneer die Namibiese netbalspan vandag na Johannesburg vertrek om in die Afrika kwalifiserende toernooi vir die 2011 wêreldkampioenskap mee te ding.
Namibiese netbal is gereed om te ontwaak nadat dit die afgelope jare onder me. Carol Garoës as die vorige president grootliks onaktief op die internasionale arena was.
Die aanstelling van Francois Nel, ’n beroepsafrigter met vlak 3 kwalifikasies in beide Suid-Afrika en Australië, het reeds ’n ommekeer in die spelers se fisieke en geestelike ingesteldheid teweeg gebring. In Johannesburg sal Namibië een van agt lande wees wat meeding om die twee plekke wat vir die 2011 wêreldkampioenskap in Singapoer opsy gesit is.
Malawi het op grond van sy posisie op die wêreldranglys reeds deurgedring, terwyl nog twee Afrika-spanne die finale 16 sal haal. Hilma Ipinge is kaptein van die span wat komende Maandag sy eerste twee wedstryde in Groep A teen Swaziland (08:30) en Uganda (16:00) speel en Dinsdag teen Botswana (12:00). Die spanne wat in Groep B begin, is Suid-Afrika, Lesotho, Zimbabwe en Tanzanië.
Die groepwedstryde sal die top vier spanne bepaal wat sake in die finale ronde sal uitspook. Die Namibiërs is vasbeslote om ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van die land se netbal te skryf. Ná aanvanklike suksesse op die wêreldarena in die vroeë 1990’s het netbal in die land in ’n moeras van onaktiwiteit, binnegevegte en swak administrasie verval.
Toe die nuwe topbestuur verlede jaar oorgeneem het, het die Namibiese Netbalvereniging (ANNA) glo nie eens ’n bankrekening gehad nie. Namibië se versuim om sy lidmaatskap van die wêreldbeheerliggaam IFNA te betaal, het daartoe gelei dat hy vir geen finansiële bystand in die opbou na die 2011 wêreldkampioenskap in aanmerking kom nie.
Die affiliasiegeld is intussen wel op datum gebring. By ’n nuuskonferensie gister het die president van ANNA, me. Lydia Kandetu, daarop gewys dat die nasionale proewe in Junie vanjaar gehou is waar ’n oefengroep van 24 saamgestel is.
Sedert die aanstelling van mnr. Nel is vier oefenkampe gehou voordat die finale toergroep van 12 spelers op 21 Augustus aangewys is. Marsha Myburgh, afrigter van die Khomasstreekspan, is as nasionale hulpafrigter aangestel en is onlangs aan ’n uitgebreide afrigterskursus in Brittanje blootgestel.
Die span reis per pad na Johannesburg danksy vervoer wat deur die Ministerie van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur beskikbaar gestel is.
|