4.03.2010 Netbal soek nuwe lewe op alle vlakke
DRASTIESE veranderinge in die minderwaardige administrasie van Namibiese netbal is nodig om die land ’n moontlike internasionale vernedering te spaar.
Dit is die nuus waarmee Joan Smit, die Afrika-verteenwoordiger vir netbal, onlangs uit Manchester, Engeland teruggekeer het waar die kollig skerp op die voortbestaan en herlewing van een van Namibië se eens trotsste sportsoorte geskyn het.
Namibiese netbal bevind hom in ’n soortgelyke krisisuur as Atletiek Namibië in 2008 met die arendsoë van internasionale beheerliggame wat die verswakkende situasie fyn dophou met ’n ferm waarskuwing dat ingryping en drastiese stappe glad nie onmoontlik is nie.
Die verwaarloosde sportkode se benarde situasie is pas weer onderstreep met ’n gerondskarrel oor die hou van ’n jaarkongres op 27 Maart. In die geraap-en-skraap is blitsbesoeke aan al 13 streke gebring waar mnre. Rusten Mogane en Walter Haseb van die Namibiese Sportkommissie verteenwoordigers ingelig het oor die plan van aksie wat voor 27 Maart afgehandel moet wees om die Namibiese Netbalvereniging (ANNA) se strukture gereed te kry vir die toekoms.
Die Khomas-streek, by verre die aktiefste netbalbasis in die land, het reeds die voortou geneem met sy jaarvergadering. Na 12 van die droogste jare ooit vir ANNA het Namibië darem verlede jaar aan die Inter Afrika Nasiebeker en Sone-6 toernooie deelgeneem.
By die Sone-6 in Durban het die Namibiërs vriend en vyand verras deur die professionele Proteas tot ’n gelykopuitslag te beperk. Dit het onderstreep watter rou talent in Namibië rondloop en Sone-6 beamptes het opgemerk dat Namibië as ’n slapende reus in Afrika-netbal beskryf kan word.
Namibië se jare in die netbalwoestyn word allerweë aan hopelose administrasie en gebrekkige leierskap toegeskryf wat daartoe lei dat sy spelers feitlik geen blootstelling kry nie. Dit sal hopelik verander wanneer die nasionale span op sy kruisvaart vertrek om te kwalifiseer vir die 2011 wêreldkampioenskap in Singapoer.
Malawi is tans die nommer een netbalreus op die vasteland en het reeds sy deelname daar verseker. Twee ander Afrika-lande kan nog ’n plekkie oopspeel met Suid-Afrika, Swaziland, Botswana, Zimbabwe, Lesotho, Zambië, Tanzanië, Ghana, Namibië en die nuwe sensasie Uganda die ander kandidate. Laasgenoemde het verlede jaar soos ’n warrelwind op die voorgrond verskyn en selfs vir Suid- Afrika afgestof.
Die huidige wêreldkampioenspan, Australië, is opnuut die gunsteling om volgende jaar sy topposisie te behou wanneer die aksie in Singapoer begin. Me. Smit het opgewonde verduidelik dat netbalspelende lande nou die geleentheid sal kry om op die hoogste vlak in Afrika mee te ding.
Nog ’n deurbraak is dat die Internasionale Netbalfederasie (IFNA) in noue samewerking met Suid-Afrika sal help om netbal vir die eerste keer by die Afrika Spele volgende jaar in Mosambiek te laat bene wys.
’n Verdere meevaller vir netbal op die vasteland is dat base van die Engelse Premierliga twee netbalbane aan die gemeenskap op Gansbaai, Suid-Afrika gegee het terwyl die vennoot van Gilbert Internasionaal IFNA toerusting geskenk het.
IFNA sal ook voltydse afrigters aanstel om die sport op minderbevoorregte plekke verder te help ontwikkel.
IFNA sal gereeld skeidsregterskursusse aanbied sodat lande op hoogte van sake met die nuutste reëls en regulasies bly. Namibië spog met drie blasers wat reeds die vlak-een kursus voltooi het.
|