24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.02.2012

Nedbank-fietsry volgende week

© Francois Poolman
Agter v.l.n.r. is Ian Grassow, voorsitter van Rock and Rut Bergfietsklub, George Thiele, president van WPP, en David Bishop van Radio Wave. Voor is Kerianne Witt van NHP, Erastus Hoveka, besturende direkteur van Nedbank Namibia en Dan Craven.

DUISENDE geesdriftige Namibiese fietsryers maak hulle reg vir die 27ste Nedbank Cycle Challenge op 18 en 19 Februarie wat heel waarskynlik ’n uitsoekplek in die annale van die tradisieryke rit kan inneem.

Die byeenkoms is die enigste amptelike padfietsrit vanjaar vir jaers wat met ’n goeie vertoning in die 75 km ’n gunstige wegspringposisie in volgende jaar se Argus fietstoer in Kaapstad kan verwerf.
Vanjaar sal RaceTech, Suid-Afrika se voorste tydhouers in wedrenne, vir die eerste keer hul professionele diens by die byeenkoms vertoon.

“Windhoek Pedal Power (WPP) is sedert die begin van hierdie fietsry-uitdaging met die organisering gemoeid. WPP wil die wedren elke jaar laat groei en verbeter en met die hulp van RaceTech sal ons as organiseerders die moontlikheid van sommige wysigings oorweeg. Volgende jaar sal die 75 km afdeling wegval en met ’n 100 km afdeling vervang word. Dit is om op gelykstaande standaard met die Argus fietstoer se bepalingstelsel van wegspringplekke te kom,” het George Thiele, president van WPP, gesê.

Altesaam 1 400 inskrywings is reeds vir vanjaar se padwedren en bergfietsrit ontvang en die hoofborg, Nedbank Namibia, het besluit om die sperdatum vir inskrywings tot komende Saterdag te verleng. “Ons kry steeds navrae van die publiek om aan die byeenkoms deel te neem en die besluit is geneem om die sluitingsdatum vir inskrywings te verleng. Mense wat wil deelneem, kan inskryfvorms by enige Nedbank-tak in die land kry,” sê mnr. Erastus Hoveka, besturende direkteur van Nedbank Namibia.
Deelnemers kan op die Sondag aan die 20 km, 35 km of 75 km padwedren deelneem. Die wegspring is by die Nedbank in Onafhanklikheidsrylaan en die OK parkeerterrein en die eindpunt is by Windhoek Gymnasium.

Dan Craven het verlede jaar se byeenkoms in ’n tyd van 1 uur 44 minute en 35 sekondes gewen en sodoende die vorige rekordtyd met vier minute verbeter. Craven sal nie aan vanjaar se byeenkoms deelneem nie omdat hy volgende week by sy nuwe fietsryspan in Londen moet aansluit.

Die meer avontuurlustige deelnemers kan die dag vooraf die 15 km of 37 km bergfietsrit aandurf wat deur Rock & Rut Bergfietsklub gereël word. Dit is die tweede jaar wat ’n bergfietsrit deel van die uitdaging is. Deelnemers moet die 37 km roete in drie ure klaarmaak. Die roetes vir beide afstande sal in die omgewing van die Auasberge wees met die begin-en die eindstreep by Windhoek Gymnasium.

WPP en Rock & Rut Bergfietsklub het die logistiek van die fietsry-uitdaging help organiseer, terwyl Namibian Health Plan (NHP), Coca-Cola en Radio Wave medeborge van die byeenkoms is.