18.08.2010 Namibiërs beklink die goues in Harare
NAMIBIESE rolbal het hom die week in ’n blitzkrieg in die annale van Afrika-rolbal gevestig met skitterende vertonings in die vroue parespel (goud) asook die mans se driespel (goud) en parespel (bronsmedalje). In die mees gesogte rolbalkompetisie op die vasteland, die Afrika Statekampioenskap in Zimbabwe, behoort die dubbelspel aan Diana Viljoen en Theuna Grobler van Namibië.
Willie Esterhuizen, Sandy Joubert en Jean Viljoen was konings van die driespel. Kort nadat hulle die gouemedaljes om hul nekke gehang het, het Graham Snyman en Will Esterhuizen (jr.) ’n bronsmedalje in die mans parespel opgeraap. Namibië het ’n blink rekord in hierdie toernooi, maar na die eerste dubbelspel in Harare het hulle nog groter indruk op ondersteuners en spelers van die sewe deelnemende lande gemaak. Namibië se bestes meet kragte teen spelers van Suid-Afrika, Botswana, Swaziland, Kenia, Zambië en die gasheer Zimbabwe.
Na die pragvertoning sal alle oë vandag op Graham Snyman in die enkelspel vasgenael wees. Snyman is die verdedigende Afrika-kampioen en enige teenstander sal sy rol moet ken om die Namibiër van sy troontjie af te stoot. In die enkelspel vir vroue sal net soveel aandag op Diana Viljoen gevestig wees, wat lankal waarskuwings uitstuur dat sy ook die Afrika-titel soek.
Die toernooi het Saterdagoggend afgeskop en sal komende Saterdag eindig wat vir Namibiese rolbal hopelik ’n duideliker prentjie oor sy komende deelname aan die Statebondspele in Oktober in Indië gee. Kommerwekkend is juis dat voorlopige aanduidinge is dat sommige rolbalspelers vanweë geldelike tekorte mag struikel om nog ’n groot ideaal te bereik.
Namibië het al in Douw Calitz ’n enkelspel wêreldkampioen in rolbal opgelewer, en gister is aan Republikein gesê dit sal inderdaad ’n treurige dag vir die glanssport wees as die land nie sy bestes na Nieu-Delhi kan stuur nie.
Ironies genoeg het rolbal oor die afgelope meer as ’n dekade al met van die blinkste trofeë by die huis aangekom, maar steeds kry die sportsoort nie die erkenning wat die manne en vroue met harde werk en vurige spel op die baan verdien nie.
|