24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.03.2010

Namibiese gimnastiek-juwele skitter by die Kus

© Boet Matthews
Robert Honiball
DIE grootste, goue uur in Namibiese gimnastiek het Vrydag aangebreek toe Kimberly-Ann van Zyl en Robert Honiball op Walvisbaai geskiedenis gemaak het deur vir die eerste keer ooit goue medaljes in die senior artistiese afdeling te verwerf. Daarmee het die twee sterre van Namibië die nuwe Afrika-kampioene in hul afdelings geword met die eerste aanbieding van die Afrika-kampioenskap deur Namibië.

Die twee goue medaljes was van pas vir gimnaste van ‘n land wat ‘n skouspelagtige Afrika-kampioenskap vir twee weke op die hawedorp aanbied. Klopdisselboom-organisasie, puik administrasie en ‘n manjifieke poging deur die komitee van die Namibiese Gimnastiekfederasie (NGF) het hierdie droom moontlik gemaak.

Dit is ‘n skouspel wat afgespeel het op ‘n splinternuwe gimnastiekvloer wat met groot moeite en baie geld spesiaal vir die geleentheid vanuit Duitsland ingevlieg is. Namibiërs het hande gevat en Air Namibia was een van die sleutelrolspelers toe hulle die mat ingevlieg het nadat pogongs misluk het om dit per boot op Walvisbaai te kry. Die nader steunpilaar was Bank Windhoek as hoofborg en ‘n string ander plaaslike bydraers.
© Boet Matthews
Kimberly-Ann van Zyl
Trane van blydskap het gevloei toe Kimberly-Ann van Zyl in ‘n wipplank-vertoning teen drie topteenstanders uit Egipte, Suid-Afrika, Tunisië en Algerië geseëvier het. In angsvolle oomblikke op die balk was Van Zyl die uiteindelike wenner met ‘n total van 11.50 punte wat haar net-net die goue medalje besorg het. Haar naaste opponent moes met 11.45 punte tevrede wees.

Die eerstejaarstudent van Namibië wat nou by Tukkies studeer, kon haar vreugde nie verberg toe sy as Afrika-kampioen gekroon is nie. Sy het deur vrylik vloeiende trane aan Republikein gesê. “Dit is inderdaad die grootse oomblik in my gimnastiekloopbaan en waarskynlik in my lewe. Ek is opgewonde, dis soos ’n droom.” Haar afrigter, Juliana Simonfi, kon ook nie haar trane keer nie en het tussendeur al die gelukwensinge gesê.

“Vir my is die goue medalje spesiaal. Dis ’n eerste keer vir artistiese gimnaste van Namibië en nogal twee medaljes. Dis die beloning vir harde werk en dit moet dien as aansporing vir ons jonger gimnaste. Man, man, dis ongelooflik!” Honiball het behoorlik spiere gewys en al sy teenstanders uitgestof met ‘n vernuftige vertoning wat op die ringe gelewer is.
© Boet Matthews
Namibië se twee “goue gimnaste”, Kimberly-Ann van Zyl en Robert Honiball.
Die kragman van Namibië is die afgelope jare reeds besig om die medaljes in te ryg en die kroning as Afrika-kampioen was hom reeds lankal beskore. Die beskeie Honiball was na sy kroning ooglopend oorstelp van vreuge en het gesê die goue medalje is iets waarvoor hy al baie lank en hard gewerk het. In die junior afdeling het Namibië se gimnaste maar swaar getrek teen die bestes van die vasteland.

Die enigste medaljewenner was Morihei Andersen wat brons in die ringe ingepalm het. Die afgelope week het meer as 500 deelnemers en beamptes Walvisbaai in die gewildste toeristeoord omskep met nie ‘n blyplekkie vir ‘n muis nie.

Die president van die Namibië Gimknastiekfederasie, me. Valeries Geldenhuys, het groot lof gehad vir haar komitee, die borge en elke deelnemer wat van hierdie Afrika-kampioenskapbyeenkoms ‘n geleentheid gemaak het wat nog vir lank onthou sal word. Die kompetisie het gister begin met die ritmiese- en tuimel-afdelings en dit duur tot Vrydag.

Boet Matthews op Walvisbaai