|
Republikein
|
|
|
20.01.2012 Moenie ’n stil sportjaar verwag nie
WIE weet waar Namibiese sportspanne hulle teen die einde van vanjaar op die verskillende wêreldranglyste sal bevind?
Enigiemand? Die nasionale sokkerspan, die Brave Warriors, lyk asof hulle die pasaangewers wil wees ná ’n paar uitstekende vertonings verlede jaar en nou onlangs teen Zambië. Die Dapper Krygers is in hul laaste sewe kragmetings onoorwonne en spog boonop met ’n skoon doelhok. Al was sommige hiervan net vriendskaplike internasionale wedstryde, dui dit beslis daarop dat iets positiefs aan die gebeur is. Vrypostig hoorsê dat die Warriors hul plan wil deurvoer om vir die 2013 Afrika Nasiebekertoernooi in Suid-Afrika te kwalifiseer. Op huidige vorm het die jongklomp van afrigter Bernhard Kaanjuka ’n goeie kans om die knoop deur te haak, of hoe? Die Warriors is nie so gelukkig soos hul buurman oorkant die Oranjerivier nie. Bafana Bafana kwalifiseer omdat hulle die gasheerspan is, anders sou hulle ook vir hul plek moes uitspeel en ná hul laaste kwalifiserende wedstryd weer ’n “victory dance” doen as die telling gelykop sou eindig. Ons onthou nog verlede jaar se kragmeting toe die Suid-Afrikaners voortydig feesgevier het terwyl hulle verkeerdelik geglo het hulle is op pad na Gaboen en Ekwatoriaal- Guinee. Nou ja, ons Brave Warriors laat dans deesdae hul opponente met uitstekende spel en is een van die lande wat in internasionale sokker opgang maak. Ongelukkig vir die jongelinge kon die Namibiese sokkerbase nie hul appèlsaak teen Burkina Faso wen nie. Iewers het die base van CAF en Fifa die skroewe vasgedraai en die uitslag by die Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) in die guns van Burkina Faso geswaai. Vrypostig wil hom nie uitlaat oor goeters waarvan hy nie veel weet nie, maar op grond van die regulasies moes Burkina Faso aan die kortste ent getrek het, wat dan chaos sou veroorsaak. Die wedstrydprogram van die Afrika Nasiebekerreeks sou heel omver gegooi word en hoë beamptes met rooi gesigte laat. Vrypostig stem saam met die NSV-president, John Muinjo, dat Namibië op die nakoming van die regulasies aangedring het “omdat ons met internasionale sokker besig is, nie bossokker nie”. Wat sou gebeur het as die skoen aan die ander voet was – as Namibië met 4-0 gewen het hoewel hy ’n gebore Egiptenaar of ’n Nigeriër gebruik het wat volgens die reëlboek nie kwalifiseer om vir ons te speel nie? Korrupsie en selfverryking is ongelukkig werklikhede van hedendaagse beroepsport en die skaal swaai deesdae in vreemde rigtings. Kyk na al die omkopery in wêreldkrieket! Ondanks die risiko’s is daar steeds diegene wat die geleenthede vir knoeiery raaksien en nie nee kan sê as die prys reg lyk vir ’n inbetaling in hul persoonlike bankrekeninge nie. Elke kansvatter moet onthou dat as jy ’n bal in die lug slaan, moet jy die gevolge dra as jy uitgevang word. Op die Namibiese rugbyveld word steeds rondgeskarrel, so amper asof die mense in die woestynsand vasgeval het. Sonder ’n hoofborg sal dit maar knetter om onse rugby weer uitgesleep en terug op die teerpad te kry. Soos altyd wag ’n geweldige uitdaging op diegene wat gekies word om die belange van die Namibië Rugbyunie oor te neem, en so ook die dapper man wat die Welwitschias sal afrig. Na die aankondiging van die nuwe rugbyleiers en die nuwe afrigter sal opnuut vrae gevra word en natuurlik klippe gegooi word. Soos ’n wyse man tevore gesê het, sal daar maar altyd twee groepe mense in Namibiese rugby wees. Die een groep kritiseer en doen niks, terwyl die tweede groep inspring en kyk wat hulle kan doen om dinge vorentoe te neem. Vrypostig glo nie daar is ’n Namibiër wat nie opreg wil sien dat die Welwitschias suksesvol in die Vodacombekertoernooi, Afrikabeker of Wêreldbeker meeding nie. Vrypostig raai die nuwe base aan om op ’n skoon bladsy te begin en nie oor die skouer te kyk en terug te verwys na die verlede nie. Onthou wat met Lot se vrou gebeur het. Op die afrigter wag ’n gedugte taak om die nasionale span vir die volgende vierjaarsiklus tot die 2015 Wêreldbeker in Londen saam te snoer. Die man in die spervuur hoef nie bang te wees om ’n nuwe idee te toets en verantwoordelikheid te aanvaar nie. Niemand behalwe jou kop is op die blok nie. Onthou dit terwyl jou kop nog nie onder die valbyl geplaas is nie. Boet Matthews Vrypostig |
|