25.01.2012 Minder Namibiërs by Xterra-triathlon
 Charmaine Shannon sal Saterdag die groot hoop van die Namibiese aanslag by Buffelspoort wees.
n HANDJIEVOL Namibiese driekampatlete maak gereed vir een van die taaiste triathlon kompetisies op die vasteland.
Van die węreld se voorste mans en vroue sal mekaar in die uitmergelende Xterra-kampioenskap by Buffelspoort die stryd aansę.
Verlede jaar het die grootste groep Namibiërs nóg opgeruk na die tweede skof by Grabouw met Paddy Murphy as die voorste aanspraakmaker.
Op Buffelspoort was Patrick de Goede die pasaangewer en wenner in sy ouderdomsgroep 40-44 jaar. Algeheel het De Goede 17de klaar gemaak. Hy sal egter nie hierdie naweek daar wees om sy titel te verdedig nie.
Aan Republikein het hy verduidelik dat hy vanjaar op deelname aan plaaslike kompetisies wil fokus.
Nog twee grotes wat nie Saterdag hul teenstanders sal uitdaag nie, is Paddy Murphy en Frank Bombosch.
Hoe dit ook sy, Charmaine Shannon het laat weet dat sy die vlagdraer sal wees en dat sy gereed is om haar talent op Buffelspoort ten volle te gebruik.
“Ek sien uit na die uitdaging danksy Johan van Kradenburg van Advanced Travel & Tours wat die reis met ’n vliegkaartjie moontlik gemaak het. Dit is uiters belangrik om in die buiteland deel te neem, want jy het ondervinding op internasionale vlak nodig.”
Charmaine het in November een van haar beste vertonings gelewer toe sy die Mariental Sakekamer Triathlon by die Hardapdam gewen het. Sy het benadruk dat haar mikpunt in Buffelspoort ’n plek tussen die voorste vroue in die ouderdomsgroep 30-35 jaar is.
“Dit sal goeie motivering wees vir die tweede skof van die Suid- Afrikaanse Xterra kampioenskap einde Februarie op Grabouw. Dis waar die wenners in verskillende ouderdomsgroepe deurdring na die Xterra Węreldkampioenskap wat gewoonlik in Oktober in Hawaii aangebied word.”
Republikein het Paddy Murphy telefonies oor sy planne uitgevra. “Ek sal hierdie ene misloop en liewer voorberei vir die tweede skof op Grabouw. Glo my, dis die grote, dis waar almal wil wen om hul talent by die węreldskouspel te wys.
“Ek het verlede jaar in Hawaii in die vierde plek geëindig en kon dalk tweede of derde geëindig het as dit nie vir ’n pap wiel was nie. Vir my is dit beter om die eerste been mis te loop om varser te wees vir die 1,5 km swem, 28 km bergfiets en 10 km hardloop op Grabouw.”
Murphy het min bekendstelling op nasionale en internasionale vlak nodig. Hy is in ’n klas van sy eie en teenstanders se senuwees raak behoorlik op hol wanneer “Murphy’s Law” sy plek op die wegspringstreep inneem.
Soos sy swemafrigter onlangs gesę het, Paddy se toewyding tot sy sport is die sleutel tot sy sukses.
Ander driekampatlete wat moontlik na Buffelspoort sal reis, is David Weber, Gen Weber, Archie Graham en Stefan Loftie- Eaton.
|