25.02.2010 Meisies speel SA aan die brand
 Die twee afrigters Shayne Cormack en Karin Slabbert en spelers van die nasionale o.17 meisieshokkiespan voor hul vertrek na Suid-Afrika.
NAMIBIESE meisieshokkie staan in ’n skitterende posisie by die huidige Olimpiese Junior Spele uitduntoernooi in Oos-Londen, Suid-Afrika.
Die nasionale o.17-meisiespan was pure goud toe hulle nie net met die tweede gekeurde Ghana afgereken het nie, maar Dinsdag ook vir Zimbabwe met 3-0 afgeransel het. Gister het hulle tot die eindstryd deurgedring met ’n 1-0 oorwinning oor Kenia danksy ’n doel in die eerste helfte deur Anneline Davin.
Sondag in hul openingskragmeting het die meisies naelskraap teen die Springbokkies met 2-1 verloor.
Die kwalifiserende ronde is ses wedstryde in sewe dae. Die kampioenspan in Oos-Londen kwalifiseer vir deelname aan die Jeug Olimpiese Spele wat later vanjaar in Singapoer plaasvind.
Die neerlaag teen Suid-Afrika was inderdaad een van die aanskoulikste wedstryde van die kompetisie met Namibië wat soos kleefpleister vasgeklou het teen sy hoër aangeskrewe buurland. Tegan Rix het die Namibiërs laat voorloop na ’n aangee vanaf ’n korthoekhou. Die tuisspan het sterk teruggeslaan met twee doele kort voor rustyd, maar het duidelik hul hande vol gehad met die talentvolle Namibiese kombinasie.
Saterdag moet die bondel talentvolle spelers onder afrigterskap van Shayne Cormack finaal bewys hoe goed hulle is wanneer hulle in ’n herontmoeting teen Suid-Afrika te staan kom vir die klimaks van die toernooi.
Hokkie staan nou uit as een van die blinkste sportsoorte in Namibië met minimale ondersteuning van regeringskant. Inisiatiewe van individue het meegebring dat die hokkieskip die oseane van die internasionale arena kon bevaar. Met hoop om binnekort ’n eerste eie kunsoppervlakte vir die sportsoort te kry, is alle oë op die stokslaners van Namibië gerig.
Die president van die Namibiese Hokkieunie (NHU), mnr. Jesse Schickerling, het aan Republikein gesê die meisies se vertoning is uitstekend en wys opnuut dat die hope potensiaal wag om ontgin te word. “Namibië het ’n geskiedenis in buitelandse toernooie van hoe later hoe kwater, maar hierdie week het die meisies met vuur uit die blokke gespring en sommer vroeg die doodskote geplant.”
Die seunspan is ook besig om hul ritme te vind nadat hulle in hul eerste kragmeting teen Suid-Afrika met 6-1 kafgedraf is ná ’n agterstand van 5-0 met rustyd. Afrigter Randy Slabbert het uit Oos-Londen aan Republikein gesê die seuns het hul senuwees oorkom en die tweede helfte veel beter gespeel het en ’n doel is deur Anathi Hans behaal. Maandag is Namibië met 6-0 deur Ghana verslaan. Vier doele in die doodsnikke het die fisiese Ghana-kombinasie laat seëvier. Dinsdag het die seuns hul spelpeil verbeter, maar is nogtans met 2-0 deur Egipte getroef. Dit was ’n hoogs gemotiveerde seunspan wat in sommige oomblikke van die kragmeting die nommer twee gekeurde Egiptenare behoorlik laat sweet het.
Slabbert het benadruk: “Die kompetisie is besonder straf en tellings is eintlik nie ’n ware weergawe van die gehalte spel wat ons jong seuns lewer nie. Ons kan trots wees op ons kinders, want hulle kan met die res van Afrika saambeweeg. Een van ons sleutelspelers, Jason Davidson, is ernstig beseer in die wedstryd teen Ghana.”
Slabbert het ook gesê dis net Namibië en Zimbabwe wat nie ’n kunsbaan het nie en dat dit ’n aanpassing is op die ongelooflik vinnige speeloppervlak.
Schickerling het gesê indien die seuns of meisies met enige medaljes terugkeer, sal dit ’n eretoekenning vir die span wees wat oortyd moes werk teen Afrika se voorste spelers.
|