21.07.2008

Meer as 100 punte in Reho-derby

© Wiets Coetzee
Reho Falcon se losskakel Melrick Africa het Saterdag drie drieë gedruk.
DIE Reho-stadion het Saterdag gedruis met ondersteuners wat hul spanne in die jaarlikse derbies tussen Reho Falcon en Rehoboth ondersteun het. Soos voorspel het die dag opwindende rugby opgelewer. Die hoofwedstryd tussen die twee klubs se premierligaspanne het meer as 100 punte opgelewer voordat Falcon met 58-49 gewen het.

Die stadion se staanplekke om die heining was volgepak met ondersteuners van die twee klubs. Rehoboth se losskakel Desmond Snyders het binne die eerste vyf minute oor die Valke se doellyn geduik vir vyf punte. Die vleuel Garth Loock kon nie verdoel nie. Rehoboth se 5-0 voorsprong was van korte duur aangesien die Namibiese losskakel, Melrick Africa, dwarsdeur hul verdediging gehardloop het om onder die pale te druk. Die Valke-heelagter Howard Titus het verdoel.

Met 20 minute verstreke het Rehoboth die bal in sy agterlyn afgestuur. Die Valke se verdediging is wyd getrek, maar die rigting is na binne verander en Snyders het sy tweede drie vir die dag gedruk. Loock kon weer nie verdoel nie, maar hy het Rehoboth se voorsprong kort daarna met ’n strafdoel na 13-7 gerek.

Die wedstryd is teen ’n hoë tempo gespeel en kanse vir albei spanne om punte aan te teken, is verongeluk wanneer die skeidsregter, mnr. Harry Diergaardt, die manne vir hanteerfoute teruggeroep het. Reho Falcon se kaptein en senter, Cliff Loubser, het sy span se tweede drie gedruk. Titus het verdoel om die Valke met 14-13 voor te kry. Hy het ook ’n strafskop bygevoeg (17- 13). Rehoboth se vleuel Graham van Wyk het sy span se derde drie gedruk.

Loock het hierdie keer sekuur geskop om weer die gashere met 20-17 voor te plaas. Titus het egter met ’n strafskop die rustydtelling 20-elk gemaak. Na rustyd het Snyders die bal onderskep en sy derde drie vir Rehoboth gedruk. Loock het verdoel om die telling 27-20 in Rehoboth se guns te swaai. Africa het met sy tweede drie geantwoord en Titus se doelskop het die telling weer gelykop gemaak.

Of dit ’n insinking in Rehoboth se verdediging was of geïnspireerde spel deur Falcon weet ’n mens nie, maar die Valke het hierna vier vinnige drieë gedruk. Die vleuel Deon Mouton, senters Luwayne Kotzee (2) en Cliff Loubser het almal deurgehardloop. Rehoboth kon net nog ’n strafskop en ‘n drie deur flank Griffon Fish, verdoel deur Loock, byvoeg. Africa het met sy derde drie sy span se voorsprong gerek. Titus het verdoel om die telling 58-37 te maak.

Rehoboth se span het hul ondersteuners egter laat juig met hul vurige spel tot die einde. Rehoboth het teruggeslaan met Van Wyk se tweede drie voordat skrumskakel Elrich Jansen die laaste sê gehad het met ‘n drie. Loock se doelskop het die eindtelling 58-49 vir Falcon gemaak. Die Valke het behoorlik feesgevier aangesien die Tommy Jarman trofee vir die premierliga derby ook vir die tweede agtereenvolgende jaar in hul klubhuis bly.

Die eersteliga-wedstryd om die Deon Jarman trofee het byna soos die eindstryd van die seisoen gelyk. Met speeltyd bykans verstreke was Rehoboth met 16-10 voor en het dit gelyk of die blink trofee vir die eerste keer in hul klubhuis sou pronk. Reho Falcon het egter ‘n aangee in die agterlyn onderskep en onder die pale gaan druk. Die veteraan Ronaldo Pedro het verdoel om die wedstryd met 17-16 te beklink en die Deon Jarman Trofee vir die tweede jaar in die Valke se klubhuis te hou.