Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

1.09.2010

Medaljedroogte onaanvaarbaar


Mnre. Ndeulipula Hamutumwa en Abner Xoagub spreek die media toe.

DIE toewyding en erns van Namibië se sportadministrateurs is gister ernstig tot orde geroep toe ’n nuuskonferensie ter nabetragting van die land se deelname aan die onlangse Olimpiese Jeugspele in Singapoer gehou is.

Die ses Namibiese deelnemers kon geen medaljes inoes nie en het oor die algemeen gesukkel om by die wêreldklas standaarde kers vas te hou.

Volgens die missiehoof, mnr. Ndeulipula Hamutumwa, en mnr. Abner Xoagub, sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK), het die Spele opnuut beklemtoon dat geen deelnemer meer oorsee gestuur kan word sonder die vlak van voorbereiding wat realistiese medaljekanse regverdig nie.

Mnre. Hamutumwa en Xoagub sê die huidige verloop van sake voorspel weinig sukses vir Namibië by die Statebondspele later vanjaar asook vir die 2012 Olimpiese Spele in Londen. By die laaste twee Statebondspeles in Melbourne en Manchester is Namibië deur onderskeidelik 56 en 62 sportlui verteenwoordig, terwyl minder as 20 teen die sperdatum van gister gekwalifiseer het om aan die 2010 Statebondspele in Nieu-Delhi deel te neem.

“Ons span (vir die Statebondspele) moet volgende week aangekondig word, en sommige sportkodes se vertonings plaas die keurders in ’n werklike dilemma.”

Ondanks die feit dat die betrokke sportkodes tot twee of drie jaar vooraf oor die kriteria vir kwalifikasie ingelig is, word die meeste se gebrek aan sukses aan leemtes in hul dissipline toegeskryf. Die NNOK vereis byvoorbeeld in die meeste gevalle dat sportlui by meer as net ’n enkele geleentheid die kwalifiserende standaard vir hul items moet behaal voordat hulle vir finale insluiting oorweeg word.


Een van die sportbeamptes se waarnemings in Singapoer is dat gevorderde sportvoorbereiding, wat uiteraard deur ’n wilsbesluit voorafgegaan is, die ou grense van sportprestasie ingehaal het. Die Oosterse lande, spesifiek China, het byvoorbeeld groot opgang gemaak in items waarin hulle vantevore geen faktor sou wees nie.

Die tradisionele oorheersing van naellopers van Jamaika of die VSA, of van die naellopers van Kenia is opmerklik nie meer die geval nie.

“Die probleme waarmee Namibiese sport te make het, is beswaarlik uniek. Daar is inderdaad klein landjies wie se seuns en meisies medaljes gewen het.”

Van mnre. Hamutumwa en Xoagub se aanbevelings vir die pad vorentoe is:

• Sportmanne en -vroue moet hul gesindheid verander, verantwoordelikheid neem vir hul eie sukses en die honger om te wen ontwikkel wat die kampioene van die naaswenners onderskei.

“Mense wat sport met ’n ingesteldheid op vermaak doen, kan nie meer meeding met diegene wat dit ernstig opneem nie. Ons moet ons sportlui kondisioneer sodat hulle nie geïntimideer word of hul aandag laat afdwaal wanneer hulle met ’n groterige skare te make kry nie.”

• Afrigters en spanbestuurders moet ontwikkel word wat sportlui tot op Olimpiese vlak kan afrig en bestuur. Omvattende kriteria moet ontwikkel word vir die aanwysing van afrigters om Namibiese spanne te vergesel.

• Ontwikkel ’n sportkultuur in Namibië deur atlete vanaf ’n jong ouderdom aan gevorderde kompetisie bekend te stel.

• Atlete behoort dwarsdeur die kalenderjaar aan internasionale kompetisie blootgestel te word om te verseker dat hul vordering deurgaans gemonitor kan word.

“Andersins word geld ter voorbereiding bestee sonder dat resultate gelewer word.”

• Ontwikkel ’n langtermynprogram vir talentidentifisering en voorbereidingstrategie vir die 2014 Olimpiese Jeugspele in Nanjing, China.

• Bykomende hulpbronne moet via die nasionale sportfederasies ingespan word om die talent wat raakgesien is, sistematies, takties en professioneel vir groter dinge te kweek.
Die jong Namibiërs se vertonings in Singapoer:
 
• Jason Afrikaner (stoei, Grieks-Romeins) het as ’n promoterskeuse verrassend goed gevaar deur in die vierde posisie in sy gewigsklas te eindig.

• Abrahm Louw – vyfde in die triathlon. Hy was deurgaans mededingend en was in die tweede plek ná die swemafdeling. Hy was waarskynlik Namibië se beste presteerder en is tans die topgekeurde junior in Afrika.

• Quinton Delie (swem) – sewende en agtste in die 50 m en 100 m vryslag onderskeidelik.

• Anica Profitt (ritmiese gimnastiek) – 18de algeheel, 73,10 punte vir haar vier items.

• Ndapandula Nghinaunye – negende in haar uitdun in die 3 000 m (10 minute 04,53 sekondes) en agtste in die eindwedloop (10:08,62).

• Julia Handyene – tiende in haar uitdun in die 1 000 meter (03:04,29) en negende in die eindwedloop (3:00,52).