24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

5.03.2010

Luiperds lê en wag op Potch

© Boet Matthews
Julian Botes (middel), Henk Roets en Shaun Esterhuizen het oortyd gewerk aan lynstaanoefeninge.
VANAAND wag die tweede uitdaging op die Namibiese rugbyspan, die Welwitschias, wanneer hulle om 18:30 op Potchefstroom teen die Platinum Luiperds te staan kom in die 2010 Vodacombekerreeks.

Die span het die afgelope drie dae behoorlik gesweet op die oefenveld en dit lyk asof die manne heelwat wys geword het uit afgelope Saterdag se tuisnederlaag teen die Griffons van Noord-Vrystaat.

Op hul tuisveld sal die Noordwesters vanaand as gunsteling opdraf, hoewel die jong Namibiese kombinasie as ’n Wêreldbeker-kwalifiseerder baie eer het om te verdedig en nie sy wenkanse moet verspeel nie.

Die Namibiërs het ekstra hulp bygekry toe die vindingryke Irven October aangesluit het om insette te lewer danksy samewerking tussen die Internasionale Rugbyraad, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) en die Namibiese Rugbyunie (NRU).

Daar is hande gevat om te help met die ontwikkeling van plaaslike rugby. October sal sy kennis as stelskop- en agterlynafrigter met die Namibiërs deel. Hy word onthou deur rugbyondersteuners toe hy vir die destydse Saru-vyftiental in 1987 teen die plaaslike Nanru-kombinasie op heelagter gespeel het en ’n rekordgetal 30 punte aangeteken het in sy span se wegholsege van 72-6.

“Ek het 26 punte met die skopskoen behaal en een keer agter die doellyn gaan kuier. Daai tyd het ’n drie nog vier punte getel,” het Irven verduidelik. October het benadruk dat hy beïndruk is met die baie jong potensiaal in Namibiese amateur rugbykringe.

“Hier is oorgenoeg talent om ’n paar verrassings in die Vodacom Bekerkompetisie te lewer. Ek is oortuig dis net ’n kwessie van tyd voordat die Welwitschias vlamvat en hul eerste oorwinning behaal.”

October sal ná die Luiperdswedstryd na Kaapstad terugkeer, maar sodra ’n finale besluit geneem word, mag hy volgende week terug in die kamp van die Welwitschias wees vir hul derde kragmeting teen Griekwas.

Hy glo ook dat ander provinsiale spanne in die Vodacombeker ’n stappie voor die Welwitschias is omdat hulle voltydse gekontrakteerde spelers het wat salarisse ontvang en ook meer voorbereidende wedstryde agter die blad het.

“Ek was Saterdag daar toe Namibië teen die Griffons gespeel het en dit was duidelik dat die gebrek aan samespel ’n groot kopseer vir die tuisspan was. Ek dink dit was ’n bietjie ‘stage fright’ wat veroorsaak het dat spelers nie hul voete kon vind nie en nie altyd die regte besluite op die veld kon neem nie.”
Die Welwitschia-span vir vanaand se Vodacombekerstryd teen die Luiperds:
 
Chrysander Botha, Llewellyn Winckler, Bradley Langenhoven, Tinus Venter, Heini Bock, TC Losper, Collin de Koe; Pieter-Jan van Lill, Renaud van Neel, Brendon Walters, Heinz Koll, Wacca Kazombiaze, Jané du Toit (kapt), Shaun Esterhuizen, Johnny Redelinghuys. Reserwes: Hugo Horn, Henk Roets, Julian Botes, Andre Vermeulen, Eugene Jantjies, Jacky Bock, Darryl de la Harpe.