
Namibië se kolfheld Gerhard Lötter.
’n AANVALLENDE honderdtal deur Gerhard Lötter, die enigste van die toernooi dusver, het gister die vroeë senuagtigheid in die Namibiese junior krieketspan verdryf op pad na die span se oorwinning met 191 lopies teen Sierra Leone by die WAP-veld.
Nadat Sierra Leone – wat as ’n boulspan gewis die verrassingspakkie van die huidige o.19 Wêreldbeker uitduntoernooi in Windhoek is – vroeg toegeslaan en Namibië op 15/3 en later 82/5 laat steier het, het Lötter as nommer seskolwer ingestap en ’n allemintige 152 van 130 balle gemoker.
Agt keer het hy die bal skoon uit die veld vir ’n ses geslaan – een keer rakelings bo-oor ’n motoris wat houtgerus parkeerplek gesoek het – terwyl sy beurt ook 14 viere bevat het. Lötter, ’n veelsydige sportman wat vanjaar ook as agtsteman Cravenweekrugby gespeel het en wie se pa Wim ’n staatmaker senter vir die land se wenspan van die laat 1980’s en vroeë 1990’s was, was deurslaggewend om Namibië tot ’n baie stewige 263 almal uit in 49.4 boulbeurt te voer.
Sy grootste ondersteuning was van Bredell Wessels (24 van 40 balle), saam met wie hy in ’n vennootskap van 133 om die sewende paaltjie betrokke was.
Vroeër het Stephan Baard 19 van 46 balle aangeteken. Sierra Leone is op sy beurt vir net 72 lopies uitgeknikker danksy die boulwerk van Christopher Coombe (4/26 in 9 boulbeurte), kaptein Wian van Vuuren (3/17 in 10 bb), Luke Bolton (2/11 in 6 bb) en Bredell Wessels (een paaltjie met die enigste bal wat hy geboul het).
Die Namibiërs kom vandag opnuut by die WAP-veld teen Tanzanië te staan. Môre is ’n rusdag vir al die spanne voor Namibië se waarskynlik bepalende wedstryde teen Kenia en Uganda.
Vandag se ander wedstryde: Nigerië tn Sierra Leone by Wanderers, Botswana tn Zambië by United, Uganda tn Kenia by CCD.