
Boet Matthews
VERGELYKINGS tref is nou nie Vrypostig se voorgeskrewe Vrydag-resep nie, maar vandag het hy ’n gevoelentheid daar’s iewers ’n vergelyking tussen die gefladder in die duiwehokke van die Brave Warriors en die Springbokke.
Ou Gertjie het hoeka in Sub A in ’n opstel geskryf: “Een duif vlieg en een duif vlieg nie vlieg.” Nou weet Vrypostig van twee duiwe wat vlieg nie vlieg.
Maar wat die ander duiwe in die hok laat fladder, met “issues”.
Daai “issues” is min pitte, swak skeidsregters, vrot kos, gebrekkige oefening, power geriewe, vreeslike reisprogramme en partykeer ook pap sokker- en rugbyballe, ensovoorts, ensovoorts…
Vrypostig moet nog die afrigter raakloop wat bereid is om die skuld vir slegte vertonings van sy span op sy skouers te vat. Dis nooit swak spankeuse of die verkeerde speelpatroon nie. Aikona, ’n afrigter weet altyd hoe suksesvolle sport gespeel moet word.
Terwyl Pieter Snorre van die reënbo(o)gnasie eers die skeidsregters geblameer het vir die Bokkies se klokkies wat so teen die All Blacks gelui het, blameer hy toe na sy vryspreking deur die Sanzar-tugkomitee die lojaliteit van sekere spelers.
In Windhoek besluit Tom Saintfieterjasies op min of meer dieselfde strategie en looi die Namibiese Sokkervereniging (NSV) oor “gebrekkige geld en die onaktiwiteit van die Namibie Premierliga (NPL).” Wat dit ook al mag beteken, want toe Vrypostig laas getel het, het die dollars geklingel en die sokkerballe gevlieg in die NPL.
En hy tokkel ook daai ander geliefde noot op die afrigterskitaar: “My eerste spankeuse se spelers is nie fiks nie.”
Vrypostig is die eerste om te erken dat daar brak kolle in die NPL is wat aktiwiteit betref, maar soos dit nou in sport gaan, sal spelers van “ooraktiwiteit” beskuldig word as hulle te veel speel en te fiks is. Of hoe, Oom Snorre?
Afgesien van al die fieterjasies, bly staan een feit soos ’n paal bo water: die fiksheid van die Brave Warrior-spelers is nie die verantwoordelikheid van die NPL nie. Of hoe, The Saint?
Hiermee sę Vrypostig nie dat hy geen simpatie met Saintfiet se situasie het nie. Glad nie. Maar ons moet darem by die feite hou en die feite is dat vanjaar se NPL besonder vroeg (einde Mei) klaargemaak het. Dit was or orsaak van die Węreldbe
ker, en dis darem wraggies nie elke seisoen die geval nie.
Boonop erken die NPL alle internasionale wedstryde van Fifa, Caf en Cosafa en is dit ’n opdrag aan klubs dat hulle hul spelers vir sulke botsings vrystel. Vrypostig het ook simpatie met die Warriors oor die vriendskaplike wedstryd teen Israel wat op die laaste nippertjie uitgestel is en het begrip vir die gebrekkige oefenprogram waar spelers behoort voor te berei en ervaring op te doen. Maar vir onfiksheid is daar g’n verskoning nie.
Dis ook so dat die Warriors se horlosie feitlik uitgeloop het ter voorbereiding vir die komende uitdunwedstryd teen Gambië, maar wie se skuld is dit? Ook die NPL of die NSV? Dis hartseer om te weet die NSV het nie die pitte gehad om die Warrior-spelers in die kamp te hou ná die aflas van die wedstryd teen Israel nie. Maar of die Warriors nou toetentaal bankrot is, is ’n ander storie. As die manne wil weet hoe voel bankrot, moet hulle bietjie Roemenië of Ivoorkus toe reis soos onse rugbyspanne!
Vrypostig stem nie altyd saam met al die verskonings wat vir swak prestasies aangebied word nie, maar oor die tekort aan geld kan selfs nie eens hy twyfel nie. In hierdie rubriek is al Vrydag na Vrydag noodkrete namens sportkodes uitgestuur, en ongelukkig was die reaksie nie naastenby wat ’n mens sou verwag nie.
Daarom kan Vrypostig net aansluit by wat die Namibiese Sportkommissie se hoof, Rusten Mogane, die week aan die media gesę het oor die “gemiddelde” prestasies van die land se atlete sedert vroeg Oktober verlede jaar. Hy reken die grootste oorsaak van “gemiddelde tot swak” prestasies is ’n gebrek aan geld. Vrypostig stem saam, maar hoe verklaar ’n mens die armgatste sportsoort (rugby) se amper ongelooflike prestasies sonder pitte? Kwalifiseer vir aanstaande jaar se Węreldbeker en gaan haal boonop die IRB Nasiebekertrofee in Boekarest? Etse!, of hoe Rusten-man?
Nog ’n uitstekende voorbeeld van prestasies sonder pitte is ons rolbalspelers. Magtig, soos hulle darem vandeesweek teen Afrika se bestes in Harare te kere gaan, behoort die rooi tapyt vir hulle met hul tuiskoms uitgerol te word. Vreemd hoe hierdie spulletjie nooit grom oor geldtekorte, gebrekkige geriewe, min speelkans, vrot kos of pap balle nie. Hulle rol die balle met doodskote in amper doodse stilte.
Dalk is daar juis ’n les hierin te leer: Kom ons afrigters en beamptes en ander slimmes bly net so bietjie stil. As die trofeë instroom, kan almal soveel raas as wat hulle wil.
Maar kom ons los tog al die onsamehangende verskonings. Kom ons hou op fladder en begin liewer vlieg.
Asseblief!