
Die Namibiese kaptein Wian van Vuuren en mnr. Francois Erasmus vertoon trots die wenspan se trofee. Van Vuuren was Sondag ook die speler van die wedstryd met sy 92 lopies en vier paaltjies teen Nigerië. Die span se triomf het hom laat deurdring na volgende jaar se finale o.19 Wêreldbeker uitduntoernooi.
DIE opgang van Botswana se jong krieketspan in die afgelope o.19 Wêreldbeker-uitduntoernooi in Windhoek het vele waarnemers verbaas. Botswana het onder meer met die topgekeurde Uganda afgereken en was dit nie vir hul nederlaag op die laaste dag teen Kenia nie, sou die buurland een van die twee plekke opgeraap het wat in die toernooi op die spel gestaan het.
Ondanks Namibië se onoorwonne rekord is die toekenning vir die beste speler van die toernooi aan Varun Vijayakumar van Botswana oorhandig.

Namibië se Gerhard Lötter ontvang die trofee as beste kolwer van die toernooi van mnr. Francois Erasmus, president van die Namibiese Krieketraad.
Die veelsydige Vijayakumar het as kolwer 382 lopies aangeteken (gemiddeld 54,57, kolftempo 97,0) en het as bouler tien paaltjies ingeoes teen ’n gemiddeld van 26,1 en 3,20 lopies per boulbeurt.
Sy 117 lopies teen Sierra Leone was een van net twee honderdtalle in die toernooi.
’n Namibiër is wel as kolwer van die toernooi bekroon.
Die paaltjiewagter Gerhard Lötter se 332 lopies het die hoogste individuele telling van die toernooi (152 teen Sierra Leone) en twee vyftigtalle ingesluit.

Christopher Coombe was een van die gevaarlike slaners in die Namibiese kolflys. Sondag teen Nigerië was hy nie uit nie op 35 van net 13 balle, met twee viere en twee sesse. Die vorige dag teen Uganda het hy van elf balle vier viere en ’n ses geslaan vir 29.
Sy kolfgemiddeld was 55,33 en sy kolftempo 100,3. Die toernooi se beste bouler was die Zambiër Himal Patel, wat 19 paaltjies teen gemiddeld 16,7 ingeryg het. Dit het hom net 3,11 lopies per boulbeurt gekos.
Die speler van die wedstryd-toekennings vir elk van die wedstryde was as volg:
Namibië tn Botswana – Varun Vijayakumar (Botswana)
Zambië tn Kenia – Irfan Karim (Kenia)

Varun Vijayakumar van Botswana word as speler van die toernooi gelukgewens deur mnr. Cassim Suliman, hoof uitvoerende beampte van die Afrika Krieketvereniging.
Uganda tn Nigerië – Faruk Ochimi (Uganda)
Sierra Leone tn Tanzanië – Rishpal Singh Karwal (Tanzanië)
Namibië tn Zambië – Stephen Baard (Namibië)
Uganda tn Tanzanië – Isaac Lubega (Uganda)
Sierra Leone tn Kenia – Ibrahim Kabia (Sierra Leone)
Nigerië tn Botswana – Oluwaseun Adeboro (Nigerië)

Die Zambiër Himal Patel ontvang die toekenning as beste bouler van mnr. Cassim Suliman.
Tanzanië tn Kenia – Duncan Allan (Kenia)
Uganda tn Botswana – Varun Vijayakumar & Ajanthan Sridaran (Botswana)
Nigerië tn Zambië – Melvin Bwalya (Zambië)
Sierra Leone tn Namibië – Gerhard Lötter (Namibië)
Nigerië tn Sierra Leone – Emmanuel Pessima (Sierra Leone)