24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

19.03.2010

Kom ons blaas ’n wendeuntjie op ons vuvuzelas!

Vrypostig met Boet Matthews

© Republikein
Boet Matthews
VRAAG: wat is lekkerder as ’n naweek propvol sport?

Antwoord: ’n Langnaweek met onafhanklikheidsvieringe waar drie van die land se gunsteling sportsoorte die vonke van trots laat spat teen besoekers uit buurlande in Suidelike Afrika.

Ja, die naweek gaan hopelik sportdisse oplewer waaraan Namibiërs nog sommer lank gaan herkou. Vanaand gaan die poppe tot laataand dans wanneer Namibië se Welwitschias om seweuur teen die Valke van Suid-Afrika in die Hage Geingob-stadion uitdraf in ’n kragmeting waar beide spanne hul wenkans hoog reken.

Die Welwitschias is vasberade om vanaand ’n vet slag te slaan nadat hulle verlede naweek tevrede moes wees met hul eerste bonuspunt teen Griekwas; ’n botsing waarin hulle eintlik die beste daarvan afgekom het.

Voeg daarby dat die Namibiërs teen hul voormalige breier John Williams te staan kom, en ’n man kan nie wag vir die afskoptyd nie! Môreaand klim van die land se beste beroepsboksers deur die toue in gevegte waarin Pan-Afrika titels op die spel staan.

Opponente van Zimbabwe, Kenia en Suid- Afrika verleen die nodige buitelandse geur aan die Sunshine Tobias Boksakademie se nuutste boksbonanza.

Sondagmiddag kry sokker sy beurt om die land se eer terug te wen nadat die Brave Warriors se amateurspan die vorige naweek in die eerste ronde van die Afrika Nasiebeker-kompetisie met 0-1 teen Seychelle verloor het.

Afrigter Tom Saintfiet is ’n ontevrede man en Vrypostig kry die gevoelentheid dat sy woede op die besoekende Zebras van Botswana uitgehaal gaan word. Die kragmeting word in ’n feestelike atmosfeer beslis, maar Vrypostig is bevrees op die veld gaan die hare waai en nie voorspoedwense uitgedeel word nie.

Vrypostig wil nou nie ’n “party pooper” wees nie, maar dit is darem die afgelope tyd net te opvallend watse invloed die fluitjievatters in veral sokker en rugby het. Die arme drommel van ’n blaser se oordeel, eerder as sy blindheid, kan ’n span laat wen of verloor!

Vrypostig is nou jammer vir die sedepreek voor die feestelike sportnaweek, maar hopelik wys die skeidsregters juis hierdie naweek vir ons hoe die fluit geblaas moet word. Vrypostig het al verlede week hier uitgepak oor die optrede van sommige sokkerskeidsregters, en die insident by die SKW-veld.

Daar kan geredeneer word dat die beslissing van die skeidsregter nie die vonk in die kruitvat was nie, maar dit het tog die plofbare situasie ’n onnodige hupstoot te gee. In rugby is die situasie nog moeiliker, want die reëls maak deesdae die spel so tegnies dat ’n ou jou reëlboek moet saamdra stadion toe.

Verlede Saterdag is die Welwitschias ’n hele paar keer in die skrums vir verskeie oortredings gestraf. Dit is opvallend hoe verskillende skeidsregters dieselfde reël op ’n baie subtiele manier verskillend vertolk en verskillend blaas.

Dit het nou nie in die Welwitschiawedstryd gebeur nie, maar Vrypostig neem toenemend kennis van die fluitjievatters se oordeel om die verdedigende span sommer met ’n strafdrie te kasty as hy reken hulle is die oorsaak dat die skrums herhaaldelik naby van die doellyn vou. Ondersteuners, afrigters en spelers wil almal sien en duidelik hoor daar is erns by die grootbase om swak skeidsregters van die radar verwyder te kry.

Want aan die einde van die dag is dit tog maar die blasers wat verantwoordelik gehou moet word vir hul foute en flaters.

Die oplossing om alle skeidsregters, vanaf skolerugby tot nasionale diens, op die verlangde vlak te bring, klink dalk eenvoudig, maar dit is nie. Eerstens skop jy nie gehalte blasers agter elke wag-’n-bietjie-bos uit nie, en tweedens moet kandidate behoorlik opgelei word en boonop ondervinding opdoen.

Ervaring kom net deur gereelde deelname en in die opsig sit Namibië met nóg ’n tameletjie. Dit is dat ons mees toegewyde blasers in rugby en sokker bitter min geleentheid vir ervaring kry.

Dit beteken nie skeidsregters en hul hulp langs die kantlyn mag blind of skelm wees nie. Ook nie om stilstuipe te kry vir die geringste oortreding nie. Soos gesê, Vrypostig wil nie hierdie onafhanklikheidspartytjie “gate crash” nie.

Al wat hy vra is dat fluitjievatters in enige sport vanaf vandag na die absolute beste van hul vermoë sal blaas en besef watter reuserol hulle in die uitslag van ’n wedstryd speel. Kom ons almal gaan hierdie naweek sportveld toe met die regte gesindheid – spelers, ondersteuners, skeidsregters en afrigters.

Kom ons gee gesamentlik ’n groot geskenk aan ’n land met ’n groot sporthart.

Kom ons blaas almal ’n wendeuntjie saam op die vuvuzela!