3.09.2010 Keurders kyk hoe boksers veg
BOKSERS wat in die ouderdomsgroep o.20 meeding, is van dwarsoor die land byeen vir ’n toernooi wat gister in die skoolsaal van die Hoër Tegniese Skool in Windhoek begin het en tot môreaand duur. Toegang is gratis vir alle boksliefhebbers.
Die ontluikende amateurvegters spook sake in tien gewigsafdelings uit as deel van Namibië se soeke na sy beste talent om die land by die SADC Sone Ses Jeugspele te verteenwoordig wat in Desember in Swaziland gehou word. Namibië het ’n trotse rekord en het reeds in 2004, 2006 en 2008 die trofee as die beste span by die Sone Ses Jeugspele verower.
|