ANDRÉ van Zijl (foto) het verlede jaar ’n rekord opgestel deur 35 000 km in een jaar deur Suidelike Afrika met ’n fiets te ry.
Die Kapenaar wy sy lewe daaraan om met verskeie rekordpogings geld vir wesies wat MIV/vigs onder lede het asook gestremde kinders in te samel. Die 62-jarige man het verlede jaar op ’n bergfiets deur Suidelike Afrika gery en ’n teddiebeer, Rufus, wat vooraan sy fiets vasgemaak is, is sy metgesel en “uitlaatklep vir my padwoede”.
Sy mikpunt is om vir elke nuwe lewensjaar ’n nuwe rekord agter sy naam te kan skryf en hy hou tans reeds 39 verskillende rekords. Van Zijl het op 1 Desember 2010 vir die eerste keer sy fiets in Kaapstad opgeneem en begin ry. Hy het verlede jaar op Wêreldvigsdag die toer van 35 000 km voltooi.
Deur die loop van die toer het hy feitlik die hele Suid-Afrika, Swaziland, Botswana, Angola en Namibië plat gery terwyl hy aan fietsritte in dié lande deelgeneem het.
Van Zijl het weer op 16 Desember in Kaapstad weggespring om sy vorige rekord tot 40 000 km in 12 maande te verbeter en opnuut N$2,5 miljoen in te samel vir gestremde kinders en vir wesies wat met MIV/ vigs leef.
“Ek verwag om op 16Desember vanjaar weer met Kaapstad as my eindpunt klaar te maak. Ek het Sondag in Windhoek aangekom, nadat ek van Kaapstad tot hier rustig en kuier-kuier gery het. Ek sal by verskeie skole tot by die Caprivistreek ’n draai maak om leerlinge oor MIV/vigs toe te spreek. Dan sal ek weer na Kaapstad terugkeer om op 11 Maart die 2012 Argus fietstoer aan te pak voordat ek weer vir ’n maand na Namibië terugkeer,” het Van Zijl gesê.
Hy beoog om dan aan verskeie wedrenne soos die Nedbank uitdaging deel te neem. Hy is ook vir die Mariental triathlon in September genooi om as fietsryer in die spankompetisie betrokke te wees. Die Kapenaar sal ook weer in Botswana, Swaziland en ’n klein gedeelte van Angola ry.
“Ek ry nie baie in Angola nie, want die paaie is nie baie goed nie en dit is nie oral veilig vir fietsryers om alleen daar te ry nie. ’n Mens kan maklik aangeval en beroof word. My hooffokus is om die meeste van my tyd in Namibië te bestee en by soveel skole as wat ek kan oor MIV/ vigs te praat,” het Van Zijl gesê.
Hy nooi enige plaaslike fietsryers om saam met hom ’n paar kilometer te ry. Hy kan by 081 793 1715 of 081 808 1100 gekontak word. Sy vordering kan op die webwerf www.andrevanzijl.tk gevolg word.